Gedagte vir die dag: Die vonkel in sy oë

ligtoring_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. (Johannes 3:17)

Hoe gebeur dit dat jý sterre in jou oë kry? Is dit wanneer jou kinders met uitgestrekte arms na jou toe aangehardloop kom? Of as al jou geliefdes saam met jou om die etenstafel sit?

Dalk gebeur dit wanneer jou huweliksmaat jou met een vriendelike kyk in liefde toevou. Of wanneer jou baas goedkeurend oor jou werk praat.

Soms vra ek my ook af: Wat sal sterre in God se oë bring? Dikwels wonder ons mos of Hy nie eerder vir ons frons nie …

Dankie tog vir Jesus! Hy gee ons ’n beeld van sy Vader wat héél anders is as dié van ’n kwaai, veroordelende God wat met onweer op sy gesig raas as ons nie in ons spoor trap nie.

Ons sien hierdie Jesusprentjie wanneer Hy met die vrou praat wat op owerspel betrap is (vgl. Joh 8:3-11); wanneer sy dissipels ontstoke reageer omdat Maria duur olie op sy voete uitgiet en Hy die geskenk in liefde aanvaar (vgl. Joh 12:3); wanneer Hy vir Nikodemus sê: “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh 3:17).

Met alles wat Hy gesê en gedoen het, het Jesus die Vader se liefde aan mense gewys. Én sy Goddelike vreugde wanneer hulle iets van God se redding en genade snap.

Ek wonder hoe dit sal wees as ons gereeld stil word sodat ons God se oë kan sien. En wanneer ons ’n slag met dankbaarheid eerder as agterdog na Hom kyk. Sal ons nie dan dalk die sterre in sy oë raaksien nie? Die vreugde, die liefde, die omgee en troos.

Jesus leer ons dat sy oë vonkel oor dié wat sy wil soek en daarvolgens probeer leef. Maar, leer Hy ons ook, daar is volop deernis in sy oë vir dié wat die donkerte invaar …

Ek wonder of my lewe nie beter sal verloop as ek ophou soek na die frons op God se gesig nie. As ek eerder in dankbaarheid raaksien hoe Hy glimlag wanneer Hy na my kyk.

Here, dankie dat U dikwels oor ons glimlag. En dankie vir die vonkel in u oë as U na my kyk.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade en seëninge. Amen!

Transvaalse nooi ·

Dankie Heere vir alles wat u vaderlike hand ons gee, dat u daar is waneer dit goed gaan maar ook waneer dit swaar gaan, dankie Here vir u genade, en help ons asseblief om ons lewenspad so te stap dat u altyd met n vonkel in u oë na ons kan kyk

Willem ·

Ek is dankbaar dat Jesus ook gekom het om my te red. Sy liefde, versorging en beskerming is deur my hele lewe sigbaar. Ek is opreg dankbaar.

Vita ·

Baie dankie Abba Vader dat U deur Jesus Christus vir ons U self kom oopenbaar het, God van liefde en genade, maar ook regverdig en dat U sonde haat, en ons lief het

Daan ·

Jy is baie spesiaal vir God. Jou foto is op sy spieel geplak. Ons moet altyd vir onsself vra: sal dit wat ek nou wil doen vir God laat glimlag?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.