Gedagte vir die dag: Die vrede wat Jesus gee

see_sonsopkoms_hart_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie. (Johannes 14:27)

Wat is vrede? Die HAT sê vrede is ’n “toestand van rus en kalmte”. Ek het besef dat vrede nie van buite kom nie – dit kom van binne. Dit is die “doelbewuste besit van genoegsame hulpbronne”. Met ander woorde, vrede kom wanneer ons besef dat ons genoeg het.

Sommige van die rykste mans wat ek nog ooit ontmoet het, het die minste vrede in hul lewe. Hulle probeer voortdurend aan hul besittings vasklou. Ek het ook die voorreg gehad om mense te ontmoet wat nie ryk is nie – inteendeel – maar wat totale vrede het. Soos ek gesê het, vrede kan nie gekoop word nie – dis iets wat van binne af kom.

Een skrywer het gesê die beste kalmeermiddel is ’n skoon gewete. Vrede word nie gevind deur baie geld te maak nie – dit word gevind deur saam met God te stap. Waar daar vrede is, daar is God ook. Kom ons konsentreer op dié dinge in die lewe wat geld nie kan koop nie.

Ek onthou ’n toneel uit Crocodile Dundee, ’n fliek waarin ’n krokodiljagter na New York City reis. Een van die karakters sê: “Mense gaan na ’n psigiater om oor hul probleme te praat.” Die hoofkarakter, gespeel deur Paul Hogan, antwoord: “Het hulle dan geen vriende nie?” Die vrou antwoord: “Jy’s reg. Ek skat ons kan almal baat vind by meer vriende.”

Dis so waar! Ons moet nooit so besig raak dat ons ons vriendskappe afskeep nie. Wanneer die lewe moeilik raak, is dit wonderlik om ’n vriend te hê wat jy kan vertrou. Uiteindelik is die heel beste vriend Jesus Christus, want daar is niks waardeur ek en jy gaan wat Hy nog nie self deurgemaak het nie. Kom ons stel ons vertroue in Jesus.

Heilige Here, ten spyte van hoe moeilik dit is om in ’n gevalle wêreld te woon, skenk U my vrede en vreugde. Dankie vir die geleenthede om dit met ander te deel. Mag ek ’n hand van vriendskap uitsteek na almal wat seer het. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.