Gedagte vir die dag: Die Vriend van sondaars

gebed_stiltetyd_sit_sonsopkoms.jpg

Foto: stylonica.com

Die jonger seun kry toe werk by ’n plaaslike boer en dié het hom die veld ingestuur om varke op te pas. (Lukas 15:15)

Voel jy vandag terneergedruk? Verwerp? Dalk voel jy jy is nie goed genoeg vir die Here nie. Wel, die waarheid is dat jy inderdaad nie goed genoeg vir Hom is nie, maar ek is ook nie. Hy is egter meer as goed genoeg vir my.

As jy een tree na Jesus toe gee, gee Hy drie tree na jou toe. Waarom? Omdat Hy jou meer liefhet as wat jy Hom liefhet. Is dit nie verstommend nie? Dalk is jy tans besig met ’n egskeiding of jy het jou werk verloor. Dalk het jy ’n yslike fout begaan en jy dink die Here sal jou nooit terugneem nie. Ek kan jou belowe Hy sal jou terugneem. Hy het gekom vir die siekes, nie die gesondes nie. Hy het vir sondaars gekom, nie die regverdiges nie. Hy staan bekend as die Vriend van sondaars en Hy wil vandag jou vriend wees.

Wat moet jy dan doen? Volg die voorbeeld van die verlore seun. Gaan net soos jy is, selfs al is jy vuil en vol sonde en al het die wêreld met jou gemors. Soms dink ons dat ons God wil ontmoet as ons eers ons lewe uitgesorteer het. Maar dan sal ons nooit by Hom uitkom nie. Jy moet nou dadelik na Hom toe gaan, net soos jy is. Gaan na Hom toe met alles wat jy het, al jou probleme, jou slegte gewoontes, die hele lot. Gaan net na Hom toe.

In die storie van die verlore seun het die pa na hom toe gehardloop en hom omhels, ten spyte van al sy vuilheid en gebrokenheid, en hom gesoen. Hy het hom huis toe geneem, vir hom nuwe klere gegee en ’n feesmaal voorberei om sy tuiskoms te vier.

Dis presies hoe Jesus oor jou voel. Hy wil hê dat jy na Hom toe moet kom – net soos jy is. Sê net jy is jammer en praat met Hom. Gaan Sondag kerk toe en raak betrokke by ander gelowiges. In 2 Korintiërs 5:17 staan geskryf: “Iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!”

Vader, ek weet ek het niks gedoen om u vergifnis, goedheid of liefde te verdien nie. Nogtans bied U dit vrylik aan my. Moedig my aan om na U toe te kom net soos ek is, in die wete dat U my nie meer of minder kan liefhê as wat U my nou liefhet nie. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

John ·

… ons is nie goed genoeg vir Hom nie… Waar in die Bybel staan dit? Of in die Buchan-bybel (R350 derde druk, by ZXY as die voorrade hou), Nuwe vliegtuig, hfst 90:1…

SNEL ·

Johan, ja, niemand is goed genoeg nie, maar Jesus maak dat ons in n verhouding met God kan staan, as ons Jesus aanneem as ons Verlosser en ons sondes bely. God is liefde, gee vir ons om en dit spreek deur Sy dade en Sy Woord. Liefde is dat God sy Seun gestuur het om te sterf sodat ons n kans kan kry om in n verhouding met Hom te staan as ons Jesus aanneem as ons Verlosser en Saligmaker. Dis n keuse, dit word nie op ons afgedwing nie. Liefde is nie liefde as dit afgedwing word nie. Hy wil nie hê enige een moet verlore gaan nie, Johannes 3:16. Sonde maak skeiding tussen ons en God, maar Jesus is die “brug” dat ons daardie kloof kan oorbrug. Ons sal nooit goed genoeg wees nie, maar daarom het ons Jesus nodig, want in die oordeelsdag as God na ons kyk, kyk Hy deur Jesus na ons en Jesus bedek ons sondes en ons word gered, maar die sonder Jesus staan oop en bloot en hul sondes is sigbaar en God kan nie op sonde kyk nie en hulle word in die hel gewerp. Wie sal iemand in sy huis toelaat as hy jou nie respekteer of omgee vir jou nie, wat nog te meer God as jy Jesus nie aanneem nie. Hy is ons “ticket” na die bruilofsmaal. Hoop jy verstaan beter.

Charles ·

Johan, lees weer die stuk en gaan na die Here met jou kommentaar. Hy sal ook jou insigte ten opsigte van Sy kinders verander as jy Hom aanbid. Groetnis en seen vir jou.

Connie ·

John Hy het aan die kruis vir jou gesterf. As God na jou kyk is jy meer as goed genoeg vir Hom want as Hy na jou kyk sien Hy sy seun Jesus. Moenie dinge probeer uit redeneer met jou kop nie. Glo net met jou hart. God het jou John baie lief en toe Jesus aan die kruis gehang het was jy in sy gedagtes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.