Gedagte vir die dag: Die vrou en die draak

storm.jpg

Argieffoto.

Lees: Openbaring 12:1-11

Sy het geboorte geskenk aan ’n manlike kind. Daar het toe oorlog uitgebreek in die hemel: Migael en die engele onder sy beheer het oorlog gemaak teen die draak. Hy is verslaan. Toe het ek ’n kragtige stem in die hemel hoor sê: “Nou het die verlossing en die krag en die koninklike heerskappy van ons God aangebreek, asook die mag van sy Christus.” (Openbaring 12:5, 7-8, 10, NLV)

Wanneer ons aan die geboorte van Jesus dink, dink ons aan blye engelaankondigings en herders wat God se goeie nuus ontvang; van ’n baba wat gebore is om mense te verlos. Maar in die hemel lyk sake ietwat anders. Op die eiland Patmos kry Johannes ’n vreesaanjaende, surrealistiese gesig van ’n swanger vrou “wat met die son omklee is, die maan onder haar voete, en op haar kop ’n kroon met twaalf sterre” (Openbaring 12:1, NLV). Hy sien ook ’n magtige rooi draak met sewe koppe en tien horings wat wag om die kind wat gebore sou word, op te vreet. Toe die kind gebore word, word hy na God weggeruk, terwyl die vrou na die woestyn gevlug het. Hierdie gebeure ontketen ’n oorlog in die hemel, waartydens die draak (die satan) deur Migael en die engele verslaan word. Hierna breek die verlossing en koninklike heerskappy van God aan.

In die hemel bring Jesus se geboorte nie vrede en vreugde nie, maar wel ’n oorlog tussen God en die magte van satan. Met die geboorte van Jesus word die satan se mag inderdaad vir goed verbreek en tree God as oorwinnaar uit die stryd. As jy in Hom glo, maak Hy van jou ook ’n oorwinnaar oor die duiwel.

Here Jesus, dankie dat U gekom het om die satan ’n nekslag toe te dien, en van my ’n oorwinnaar in u Naam te maak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.