Gedagte vir die dag: Die waarde van deursettingsvermoë

vyeboom

Foto: Reint Dykema.

Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê. Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan. (Openbaring 2:7)

Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes. (Galasiërs 6:9)

Vir die Here is ’n goeie begin nie belangrik nie; vir die Here is dit belangrik hoe jy eindig. Hy is op soek na manne en vroue met deursettingsvermoë; hulle wat oorwin, verslaan en seëvier.

Ek het eenkeer ’n wonderlike artikel gelees wat gesê het Walt Disney is ontslaan by die koerant waar hy gewerk het omdat hy nie genoeg verbeelding en goeie idees gehad het nie. Soichiro Honda het nie die pos gekry waarvoor hy aansoek gedoen het by Toyota nie, wat hom werkloos gelaat het – totdat hy begin het om bromponies in sy garage te maak en uiteindelik die Honda-maatskappy gestig het. Daar is soveel sulke voorbeelde. Ons sal almal soms misluk. Die verskil tussen of jy ’n wenner of verloorder is, is hoe jy daardie mislukking hanteer.

Moenie jou selfvertroue en selfrespek verloor nie. Moenie besluit om nooit weer iets aan te pak as jy nie seker is dat jy suksesvol sal wees nie. Probeer weer! Calvin Coolidge het eenkeer gesê: “Niks in hierdie wêreld is belangriker as deursettingsvermoë nie. Nie talent nie; daar is talle voorbeelde van talentvolle mense wat onsuksesvol is. Nie hoe slim jy is nie; slim mense wat onsuksesvol is, is algemeen. Nie opvoeding nie; die wêreld is vol geleerde haweloses. Deursettingsvermoë en vasberadenheid is wat bly staan.” Wees vasberade vir Jesus, want Hy sal jou nooit verlaat of in die steek laat nie.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.