Gedagte vir die dag: Die wankelende rots

bid_kniel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil. (Matteus 26:75)

Petrus met sy groot mond! Vroeër was hy vol bravade: “Ek is bereid om saam met U gevang te word, te sterwe!” Nou in die hoëpriester se huis waar Jesus verhoor is, voor ’n diensmeisie, het Petrus se moed hom begeef: “Ek ken Hom nie!” Drie keer na mekaar het Petrus sy Here verloën. Al wat van die rotsman oorgebly het, was die gebroke man in trane. Wie ken dit nie? Wie van ons het nie al trane van selfverwyt gestort nie?

Maar Petrus het meer om te vertel: Drie weke later het Jesus met ons ’n afspraak gehad by die See van Galilea, daar waar Hy ons destyds geroep het. Daar het Jesus na my gekyk: “Petrus, het jy My lief?” Drie keer het Hy dit gevra – en drie keer het ek in trane geantwoord: “Ja, Here, ek het!” Ek het my skuld bely en Jesus het my in ere herstel!

’n Paar weke later is Petrus en Johannes voor die Joodse Raad gedaag: “Julle mag nie oor Christus praat nie!” Petrus het vreesloos geantwoord: “Julle moet maar self besluit wat voor God reg is: om aan julle gehoorsaam te wees, of God. Wat ons betref, dis onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.”

Dis ook ons storie. Ons struikel dikwels, ons steek die Here en onsself in die skande. Maar Jesus steek ook sy hand na ons uit en tel ons op. Johannes wat die dag daar was, skryf: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid” (1 Joh 1:8-9). Genade onbeskryflik groot!

Bron: Die lig op my pad deur Piet Meiring
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.