Gedagte vir die dag: Die ware geseëndes

Boekevat - Perd in veld - Foto: C Brits

Foto: Christo Brits

Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. (Matteus 5:3)

Ek is geseënd! Ons gelowiges groet mekaar so gereeld met hierdie frase wanneer iemand vra hoe dit met ons gaan. Hierdie frase word juis gehoor wanneer ons voorspoed ervaar by die werk, ’n nuwe kar gekoop het of sommer net die “vrug van ons arbeid” geniet. Dit is ’n frase wat so deel geword het van ons woordeskat. Maar die manier waarop ons meen ons is geseënd en die manier hoe die Bybel dit beskryf, lyk ’n bietjie verskillend. Hoor wat sê die Bybel in Matteus 5:3-11 oor wanneer ons geseënd is:

Geseënd is dié wat treur, die sagmoediges, dié wat honger en dors na wat reg is. Geseënd is dié wat barmhartig is, rein van hart is, die vrede makers. Geseënd is dié wat vervolg word, beledig en sleggesê word.

Hier beskryf Jesus in die Bergrede die geseëndes as mense wat huil, sagmoedig is, vervolg word, wat leef ter wille van ander en wat as vredemakers optree. Al klaar moet ek my eie persepsies teenoor my sogenaamde geseëndheid heroorweeg.

So wat dan van ons finansiële en materiële “seëninge”? Kom dit dan nie van God af nie? Die eintlike vraag is seker: Hoe gebruik ek my finansies en materiële voorspoed om vir iemand anders ’n seën te wees? Dis wanneer ek in diens staan van my aardse en materiële skatte dat dit ’n vloek word in my lewe.

Ons moet begin soek na die ware seën in ons lewe, en dit is wanneer mense in vrede leef met ander en met ’n oop hart en ’n oop hand leef, en wanneer ons besef om geseënd te wees beteken om die krag van God te ken. Kom ons gaan leef as geseëndes. Ons land het dit nodig.

Here, leer my vandag wat dit beteken om geseënd te wees. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Shane Griffiths ·

To each of You my sisters and brothers in Christ . Open your arms to His love . He gave His life for each of us . We are sooo blessed

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.