Gedagte vir die dag: Die weg van versoening

bospad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. (Matteus 5:23-24)

“As … dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het … ” (Matt. 5:23).  Hierdie vers sê: “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het … ” (Matt. 5:23). Dit sê nie, as jy jouself ondersoek en iets vind as gevolg van jou ongebalanseerde sensitiwiteit nie, maar as dit jou byval. Met ander woorde as iets na jou bewussyn gebring word deur die Heilige Gees van God. “ … gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe” (Matt. 5:24). Moet nooit die dringende sensitiwiteit van die Gees van God in jou teëstaan wanneer Hy tot in die fynste detail vir jou ’n opdrag gee nie.

“ … (G)aan maak eers vrede met jou broer … ” (Matt. 5:24). Die opdrag wat ons Here hier gee, is eenvoudig: Gaan maak eers vrede. In werklikheid sê Hy: “Gaan terug op die pad waarlangs jy gekom het; die pad waarvan jy oortuig geraak het daar by die altaar; sorg dat jy só ’n gesindheid in jou hart en siel het teenoor die persoon wat iets teen jou het, wat versoening so natuurlik soos asemhaling sal maak.” Jesus noem glad nie die ander persoon nie, Hy sê vir jóú om te gaan. Dit is nie ’n geval van jou regte nie. Die ware kenmerk van ’n heilige is dat hy sy eie regte kan prysgee en die Here Jesus gehoorsaam.

“ … kom dan en bring jou gawe” (Matt. 5:24). Die proses van versoening is duidelik uiteengesit. Eerste het ons die heroïese gees van selfopoffering; dan skielik, die verpligting van die sensitiwiteit van die Heilige Gees en dan kom ons tot stilstand by die plek van oortuiging. Dit word gevolg deur gehoorsaamheid aan die Woord van God wat in ons ’n gesindheid bewerk wat geen skuld plaas op die een met wie ons die probleem gehad het nie. Ten slotte volg dan die vreugdevolle, eenvoudige, ongehinderde neerlê van my gawe voor God.

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.