Gedagte vir die dag: Die wolk van getuies

Boekevat Foto - Sonsopkoms oor dam

Foto: Christo Brits

Lees: Hebreërs 12:1-3

Daarom dan, terwyl ons so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê … en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof … (Hebreërs 12:1-2, 1933-vertaling)

Ná die dood van sy ma, vrou en dogtertjie in ’n ongeluk wat deur ʼn dronk bestuurder veroorsaak is, skryf Jerry Sittser dat die swaarkry van ander hom daagliks daaraan herinner dat hy nie alleen is nie, maar deel is van ’n groot groep mense wat hom vooruitgegaan het hemel toe. ‘I am grateful that I can keep their company and learn from them,’ skryf hy.

Almal wat in God glo, weet dat die lewe op aarde nie die einde is nie. Eendag sal ons in die hemel met die mense wat ons liefhet, herenig word. Johannes skryf byvoorbeeld dat ons trane eendag in die hemel afgevee sal word (Op 21:4); dat ons hartseer daar vir altyd verby sal wees. Ook Jesaja 65:17–18 beloof vir ons ’n eindbestemming wat ‘vol blydskap’ sal wees.

As jy dus kort tevore ’n dierbare aan die dood moes afstaan, kan jy seker wees dat jy daardie persoon eendag weer sal sien. Die hemel is ons ware bestemming, skryf Sittser. Voor ons in God se nuwe wêreld verwelkom sal word, word ons trane eers afgevee en sal ons alle aardse hartseer aflê.

In hartseertye kan jy na die wolk van getuies rondom jou kyk, jou oë op Jesus gevestig hou en aanhou met jou aardse wedloop wat eendag in die hemel gaan eindig.

Here, baie dankie vir die versekering dat as alles op aarde vir my verkeerd loop, ek steeds na U en die wolk van getuies rondom my kan kyk en weet dat die hemel my eindbestemming sal wees.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy!  Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ansa ·

Ek stem saam dit is iets om na uit te sien om almal weet te gaan sien ook al my oupas en oumas wat ek nooit op aarde geken het nie Ons moet net ons saak met God reg maak om dit te kan ervaar

Mien ·

Dankie vir hierdie troosboodskap. ‘n Opmerking wat iemand jare gelede by ons Bybelstudie groep gemaak het, sal my altyd bybly. “Al wat ons kan saamvat hemel toe, is ons kinders en ons geliefdes.”

Annelie ·

So gerustellend dat dit n voorreg sal wees om almal weer te sien wat ons vooruitgegaan het. Ek dra vandag op aan n vriendin wat verhuis het na ons Hemelwoning. GRIETLE jy was my beste bestie stuur groete aan Theo. Liefde

Louis strydom ·

Wanneer gaan julle verdwaaldes die bybel reg verstaan daar gaan n opstanding wees Joh 5 28,29 en op die oomblik is almal wat dood is in die graf en weet niks nie Predker 9,5,6

Frank ·

Ons liggame word begrawe, Louis, maar ons siele is dadelik by die Here (lees onder andere Ope 6 (siele om die altaar)). Eers met ons Here Jesus se wederkoms gaan ons siele verenig word met ons verheerlikte liggame (dieselfde liggaam wat begrawe is, nie ‘n ander een nie).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.