Gedagte vir die dag: Die wonder van God se teenwoordigheid

Vrou_arms_uitgestrek_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Efesiërs 3:14-21

Mag God julle lewens met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van julle lewens is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie. (Efesiërs 3:19, Die Boodskap)

Paulus bid dat die gelowiges in God se liefde gewortel en gegrondves sal wees en dat hulle die omvang van hierdie liefde sal besef. Hy vra God om hulle lewens met sy teenwoordigheid te oorspoel, in só ’n mate dat daar nie een stukkie van hulle lewens sal wees wat nié daardeur geraak sal word nie.

Al God se kinders is verseker van sy teenwoordigheid in hulle lewens omdat Hy deur sy Heilige Gees in elkeen van hulle woon. En dit is juis die Heilige Gees wat God se liefde in ons harte uitstort. Ons het God dus elke oomblik by ons en niks kan ons van sy liefde skei nie. Hierdie feit behoort ons nie net met verwondering te vul nie, maar maak dit vir ons moontlik om met rustigheid en vertroue te leef, selfs wanneer ons omstandighede moeilik raak of wanneer daar onvoorsiene dinge met ons gebeur.

Die vermoë om verwonderd te wees, is noodsaaklik om God se teenwoordigheid waar te neem, skryf CS Lewis. En die feit van God se teenwoordigheid by sy kinders, is dan ook een van die redes waarom ons ons heeldag oor sy goedheid en liefde vir ons kan verwonder. Wanneer ’n mens jou oor God se teenwoordigheid in jou lewe verwonder, gaan hierdie verwonde ring meermale oor in gebed omdat jy jou dankbaarheid aan God wil bekend maak. “Verwondering is die basis vir aanbidding,” is Thomas Carlyle se bydrae.

Here God, dankie dat ek my kan verwonder aan u liefde vir my en aan u teenwoordigheid in my lewe wat my hele lewe raak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.