Gedagte vir die dag: Die Woord gee lewe aan almal

bybel.jpg

Argieffoto

Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees … (Jesaja 55:10-11)

Daar is ’n ware verhaal wat vertel van ’n effe konserwatiewe gemeente wat langs die kunsdepartement van ’n Universiteit geleë is. Die gemeentelede het besluit hulle wil na die studente uitreik en het uitnodigings teen lamppale aangebring waarin hulle studente na hul eredienste genooi het.

Kort hierna het ’n alternatiewe kunsstudent besluit om die gemeente se aanddiens by te woon. Eie aan enige student, maar miskien veral eie aan ’n kunssinnige student het hy die aand by die kerk in sy geskeurde denim en slordige swart hemp, hare ongekam en ongeskeer opgedaag. Die kerk was stampvol en dit het die student gedwing om tot voor in die kerk te drentel opsoek na ’n sitplek. Sover hy gestap het, het gemeentelede hom geskok aangekyk. Hoe durf hy so oneerbiedig hier opdaag? Toe hy hom reg voor die kansel op die vloer neerplak aangesien hy nie sitplek kon kry nie, het almal verontwaardig na mekaar gekyk.

Die leierouderling het opgestaan en met sy kierie na die student gestap wat kruisbene voor die kansel stelling ingeneem het. Ook maar goed so, het almal gedink. Selfs die dominee was verlig dat die oudste bereid was om die arrogante, disrespekvolle mannetjie aan te spreek. Toe gebeur iets wat niemand verwag het nie. Die oom laat sy kierie reg langs die jongman val en gryp na sy skouer toe hy langs hom gaan sit. Alles was doodstil in die kerk toe die leierouderling vir die student sê: “Sodat jy nie alleen voel hier voor in die kerk nie, jongman!”

Paulus sê omdat hy self God se genade ontvang het, kan hy nie anders as om dit met ander te deel nie. Die evangelie het krag om mense te red en hulle vir ewig te laat leef. Daarom kan ons nie dat enigiets, veral nie ons vooropgestelde idees oor ander mense, ons daarvan weerhou om te getuig nie. Soos die reën en sneeu wat uit die hemel kom ’n heilsame invloed op aarde het, só het die Woord van God ook ’n vernuwende invloed op dié aan wie dit gerig word.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.