Gedagte vir die dag: Die Woord uit God se mond

man-with-open-arms-705x335.jpgLees: Jesaja 55:8-13

Die woord wat uit my mond kom, sal nie leeg na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek verwag en die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het. (Jesaja 55:11, NLV)

Die wêreld om ons verander daagliks – daar is elke jaar soveel nuwe dinge waarby ons moet aanpas dat dit soms baie verwarrend is. Mense se waardes het vervlak en word nie meer aan die Bybel gemeet nie. Tog is die lig van God se Woord die enigste manier hoe ons ’n onbekende jaar met vertroue kan aandurf. “Wie in Christelike verantwoordelikheidsbesef wil wandel in die lig van die Woord van God, skep vir hom beginsels wat aan sy doen en late leiding en koers gee. Wie só lewe, sal nooit vreemd word in ’n veranderende wêreld nie, want hy het die ewige jeug van Gods Woord ontdek,” skryf Johan Heyns tereg (Wie fyner maal).

Ook al verander alles anders in die nuwe jaar, jou Bybel kán nie verouder of uit die mode raak nie; dit bly elke dag nuut en ter sake omdat dit die Woord uit God se mond is wat van Hom self kom. Indien jy in die jaar wat voorlê daardie Woord bestudeer en gehoorsaam, en jou lewe daarvolgens inrig, sal dit doen wat God verwag en die doel bereik waarvoor Hy dit gestuur het. Sien jy kans?

Hemelse Vader, ek loof U vir die waarheid van u Woord, die lig wat dit op die onbekende pad van die nuwe jaar werp en die wysheid wat daarin vervat is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.