Gedagte vir die dag: Die woord van die Here is volmaak

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. (Psalm 19:8) – Deel 1

Die woord van die Here – Wat is dit? Vir die psalmdigter was dit die wet van Moses, of soos ons dit ken, die eerste ses boeke van die Bybel. Miskien het hy nog enger daaraan gedink as die wet van God, want op die keper beskou, was dit tog die kernwoord uit God se mond. Hoe dit ook al sy, die digter het gedink in terme van die bestaande gedokumenteerde woord van God. Ons dink verder. Ons dink aan die hele Bybel wat tot ons beskikking is. En alhoewel daar hewige debatvoering is oor die egtheid en betroubaarheid van die Bybel as openbaringsbron, staan een ding soos ’n paal bo water: Dit bly een van die heel merkwaardigste maniere waarop God sy wil bekend maak. Dalk moet ons minder oor die fyner besonderhede stry en die boodskap van die Bybel met veel groter erns en ontsag benader. Miskien moet ons onder leiding van die Heilige Gees weer opnuut ontdek dat die woord van die Here volmaak is.

Dit bevat presies alles wat ons nodig het om God se wil te ken. Het die psalmdigter wat nog voor Christus se koms geleef het die reg gehad om só te sê? Het daar nie by die skryf van Psalm 19 nog so geweldig baie Godsopenbaring ontbreek nie? Nee, tog nie. Die Ou-Testamentiese gelowige het met soveel intense en kinderlike Godsvertroue geleef dat die woord van God genoeg was om gelukkig te lewe en te sterwe. Die geheimenis van die Woord wat sou vlees word, was nog vir hulle verborge. Nogtans, meen ek, het hulle met minder verset teen die woord geleef as ons wat die Vleesgeworde Woord leer ken het.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dirk ·

“Die Ou Testamentiese gelowige” wat hierin beskrywe word, word aan ons nou deurgegee as weggeval – die wette.
Regtig? Lees maar mooi jou skrifte, was dit dan nie Jesus selfs en na Hom ook sy Apostels wat die Ou testamentiese wette en feeste bygewoon het nie?
Hoe het ons nie vervalle geraak nie, tot in die boek Openbaring word die wette genoem en ons word gewaarsku.

Ek sal graag ander lesers se mening wil sien hieroor.

Von ·

Dirk stem saam , my mening Jesus het die wet kom vervolmaak Hy was getrou daaraan,

Hannah ·

Vreeslik om dit te moet erken…maar dit is een deel van die Skrif wat ek nog steeds nie onder die knie het…. “Jesus het die Wet kom vervolmaak…” wat word daarmee bedoel? Wanneer mense aanhaal dat ons nie meer “onder die Wet staan nie” help asseblief! Het Jesus se kruisiging dit alles teweeg gebring?

Reinier ·

Ons staan nie meer onder die Wet nie op die selfde wyse soos mense in die ou testamentiese tyd nie. Jesus is die vervolmaking van die wet, dit beteken dat as ons Jesus volg, ons outomaties die Wet sal volg, dóór Hom. Jesus het die Wet nie weggevat nie, hy het hom geperfeksioneer en gee ons die moontlikheid om die perfekte Wet van God te volg net door Hom te volg.

Dit staan mooi in Galasiers 3. Die hele stuk is baie duidelik en helder, maar ek sal net ‘n paar verse vir jou wys.

21Wil dit nou sê dat die wet van Moses in stryd is met die beloftes van God?
Beslis nie! As ‘n wet gegee was wat in staat was om die ware lewe te skenk, sou ‘n mens inderdaad vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou. 22Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus. 23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

Ek hoop dit help! God is by jou

Hannah ·

Baie baie dankie Renier….ek sal Galasiers 3 weer met aandag gaan lees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.