Gedagte vir die dag: Die woord van die Here

Man_veld_Bybel_Stiltetyd_.jpg

Foto: teachingthem.com

Lees Psalm 19:8-15

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe (Psalm 19:8)

Dit is geseënde mense wat hul vreugde en vrede in God se woord vind. Hulle hoor duidelik as Hy daaruit met hulle praat. Hulle het geleer om fyn te luister.

Hulle weet ook dat niks hieraan vanselfsprekend is nie. Hulle is, inteendeel, terdeë daarvan bewus dat dit ‘n onbeskryflik groot genade is om God se stem só te mag hoor. Dit is nie almal beskore nie.

Hulle kan hulle vereenselwig met die psalmdigter se sterk uitsprake oor die Here se opgetekende woord, met woorde soos “volmaak”, “betroubaar” (v. 8), “helder” (v. 9), “goed” en “reg” (v. 10).

Soos die digter, weet hulle ook dat die woord van die Here lewe gee, dit bring wysheid, dit dui die regte koers aan, dit gee insig. Boonop staan dit altyd vas.

Maar dalk is dit die belangrikste uitwerking wat hierdie woord op die lesers daarvan het: Die Here se dienaars laat hulle daardeur leer. Op hierdie manier besef hulle dat hulle nie alle wysheid in pag het nie. Dat soveel dinge, ook in hulle self, steeds vir hulle verborge is. Só leer dit hulle beskeidenheid, afhanklikheid, iets van hul eie broosheid. Die voorlopigheid van hul verstaan.

Só dryf die woord hulle terug na God, soos dit sekerlik hoort. Nadat hulle Hom aangehoor het, lui hul gebed uiteindelik só: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here …” (v. 15).

Inderdaad: Aan die Here se woord word ons woorde en gedagtes gemeet, geweeg. En deur hierdie Woord word ons reggehelp.

Here, ek hoor U skaars; my ore is so toe. Praat tog hard en duidelik met my. Help my reg.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jan N ·

“Dit is nie almal beskore nie”. Ek het my hele lewe aan God geglo, maar ook baie sonde gedoen. Ek het (op 68) nog nooit sy stem vanuit sy word gehoor nie. Ek neem aan dat ek onverkose is ten spyte van my gebede en studies die afgelope klomp jare terwyl ek deur ‘n baie moeilike tydperk gaan. Vir my beteken dit ek is dood vir God. Die artikels en ander geskrifte wat ek lees verwar my meer as wat dit help. Is daar werklik vergifnis vir almal? Die akkedemiese veklarings is nog minder verstaanbaar. Kan u help?

SNEL ·

Jan N, ek is geen teoloog, maar ja, die Here het vir ALMAL gesterf, vir jou ook. Ons moet net voor die Here kom met n gebroke hart en ons sondes bely, bedoelende ons moet opreg jammer wees oor ons sonde en vergifnis vra en ons HELE lewe aan Hom oorgee, dat Hy beheer vat, Hy moet op die troon van ons lewe sit gedagtes, geld, besittings, alles . Sy Woord moet dan n lig op ons pad en n lamp vir ons voet wees en ons lei oor hoe ons moet lewe. Ons hele lewe moet dan om God draai. Om vir die Here te lewe se nie ons val en sondig nie, maar ons vra vergifnis en probeer dit nie weer doen nie. Jy se; ek het my hele lewe aan die Here geglo, maar ook baie sonde gedoen. As jy daai tyd vir die Here gelewe het, het jou lewe getuig van n kind van God of een van die wereld, anders het jy dan nie nog jou hart en lewe vir die Here gegee nie. As jy tot bekering kom en vir die Here lewe, draai jy jou rug op wat verkeerd was in jou lewe en lewe jy so dat jy die Here se hart bly maak…n man na God se hart.

SNEL ·

Jan N, ek het nie klaar geskryf nie. Goed verwar my ook oor wat ander skryf, daarom fokus ek slegs op God en Sy woord en gaan kerk toe waar ek weet die waarheid word verkondig, maar selfs in n kerk moet mens fyn luister en alles, absoluut alles meet aan God se Woord, baie vals profete. Onthou God se Woord kom, alhoewel deur mense geskryf, uit God se mond, daarom moet ons dit onvoorwaardelik glo. As ek voel die vyand val my aan met twyfel, stop ek en bid dadelik. Onthou net, die vyand slaan meer toe op Christene, want die wat nie glo is reeds verlore, so Christene is sy groot teiken. Selfs Eva was met twyfel gevang, want die vyand met sy onskuldige vraag het twyfel in haar hart gesit; is God werklik lief vir my as Hy my weerhou van die vrug, gee Hy om as Hy nie wil he ek moet hierdie vrug eet nie. Veg voort Jan, net alleen dat jy hier skryf dui dat jy smag na n noue verhouding met die Here. Vas en bid, baie krag daarin. Moet ook nie luister na al die nonsies van hoe mens moet bid nie, praat net met God, kry n verhouding met jou Hemelse Pa. Jy kort nie akadrmiese verklarings om dinge te verduidelik vir jou nie, lees God se Woord en GLO wat jy lees en vra God om jou te wys en leer deur Sy Woord. Ek bid vir jou.

HPV ·

Snel, al wat ek op jou skrywe kan antwoord is AMEN!
Sterkte ook aan Jan N. Loop egter lig vir die skrifgeleerdes en verdraaiers.

Luister ·

Ek wil graag byvoeg dat mens jouself ook moet vergewe. Dink bewustelik, en GLO dat die
Heilige Gees binne-in jou leef. VOEL hoe jou hart
swel van Sy liefde vir jou; en joune vir Hom. ♥

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.