Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. (Johannes 20:21)
Jy kan dalk wonder: Wat is ywer? Dit kan gedefinieer word as ’n krag wat iemand voortdryf na die uitvoering van iets. Dit is beslis nie net ’n emosie wat iemand ervaar nie; dit is ’n innerlike, tasbare dryfkrag. Daar moet egter ’n missie wees. “You must have true Godly ambition with a God-given mission.” Jou ywer sal dan bepaal of jy daardie Godgegewe missie sal kan bereik en vervul.
In Christus Jesus kan jy die ywer van God die Vader hê om jou Godgegewe taak te vervul, want in Johannes 20:21 sê Jesus: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” In geloof kan jy glo dat dieselfde ywer wat in Jesus was, nou in jou kan wees en kan jy dít wat God die Vader in jou hart geplaas het, doen en vervul. Jy moet egter woeker met die gawes en die talente wat God die Vader aan jou toevertrou het. In 2 Petrus 1:2 sê Petrus: “Mag daar vir julle genade (God se guns) en vrede (wat die vrug van God se genade is) in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!” Ywer alleen kan nie die taak verrig nie, nogtans word dit die dryfveer wat jou vorentoe laat beur.
Al is dit soms moeilik en ontsettend uitdagend, sal jou ywer jou bekragtig om te volhard, om deursettingsvermoë te hê en om vas te byt tot die deurbraak kom. Ywer maak van jou berg ’n molshoop. Ywer help jou om die onmoontlike moontlik te maak.
Net soos Jesus moet jy kan sê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi” (Johannes 4:34).
Ek wil volhard, Here, selfs in die moeilike tye. Gee asseblief vir my die ywer van God. Amen
Ek dank U my God ek dank U met soveel liefde en vrede. Ek gooi my hande op na bo en sing Hallelujah gee eer aan Hom Hallelujah. Loof sy Heilige naam. Amen