Gedagte vir die dag: Dien ander met jou gawes

voete_beker_Stiltetyd.jpg

Foto: jamiegrubb.wordpress.com

As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ’n genadegawe ontvang het, die ander dien. So moet julle God in alles verheerlik deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort tot in alle ewigheid! (1 Petrus 4:10-11)

Die mense van Petrus se tyd was fyn ingestel op Jesus se wederkoms. Petrus wys sy lesers daarop dat Jesus se wederkoms naby is.

Om hierdie rede behoort hulle selfbeheersd en nugter te wees en tot God te nader in gebed. Hy beklemtoon weer die belangrikheid van liefde onder mekaar, wat baie sondes sal bedek. Hy moedig hulle ook aan om gasvry te wees en mekaar te dien met die genadegawes wat hulle van God ontvang het. Deur dit te doen, sal God verheerlik word.

God het aan elke mens ’n spesifieke gawe gegee, alhoewel sommige mense se gawes veel meer opvallend is as dié van ander. Dink mooi na oor die gawe wat jy van God ontvang het, en gebruik dan daardie gawe om die mense om jou te dien en vir God te verheerlik.

Here, dankie vir gawes wat U aan my toe vertrou het. Ek wil hulle graag aan wend om my  medegelowiges en vir U te dien. Amen.

Bron:
Geskenk van genade deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.