Gedagte vir die dag: Dien die Here met blydskap

geluk_uitgestrekte-arms_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Die bepalings van die Here is reg: elkeen van hulle is regverdig. (Psalm 19:10) – Deel 1

Hoe dien ’n mens die Here? Ek reken dat dié vraag baie mense onkant betrap. Hulle het dan gedink die Here is daar om óns te bedien … Nee, mense sal dit waarskynlik nie in soveel woorde sê nie, maar dit is nogal die indruk wat dikwels gewek word: God moet gereed wees om aan ons wense te voldoen, ons gebede te verhoor en ons welvaart te verseker. Wat ’n banale manier is dit om oor God te dink!

Ons staan in God se diens, nie as willose slawe nie, maar as Koningskinders. God het sy skepping aan ons toevertrou. Die wêreld waarin jy leef, die omgewing, die bome en berge en see, jou medemens – alles vorm deel van jou werkterrein waar jy in God se diens staan. Jou huwelik en gesin en werk is terreine waar jy God moet dien. Luister maar fyn na God se gebod en moenie van God se eise afwyk nie.

“Dien die Here met blydskap” is die raad van die digter van Psalm 100. Ek dink tog as ons uitgangspunt in ons verhouding met God meer vreugdevol is, sal dit veel makliker wees om sy wil te gehoorsaam. En waarom nie? Ons het mos rede om ons in die Here te verbly. Hy oorlaai ons dag na dag met onverdiende genade.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.