Gedagte vir die dag: Dien die Here, ook by die werkplek

kruis_bybel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ’n opregte hart uit eerbied vir die Here. Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie. (Kolossense 3:22-23)

In Kolossense 3 skryf Paulus aan gelowiges om hulle advies te gee oor hoe hulle met mekaar moet omgaan. Hy gee raad oor hoe huweliksmaats onderling, ouers en kinders en ook slawe en hul eienaars teenoor mekaar moet optree.

Paulus wil vandag vir ons leer dat ons nie net die Here moet dien by die kerk, Bybelstudiegroepe en ander kerklike geleenthede nie, maar in alle areas van ons lewe. Om dit van harte te doen beteken dat die keuses wat ons elke dag maak, wys wie ons in ons diepste, binneste wese is.

Die werkplek is vandag vir baie kinders van die Here ’n groot struikelblok en bron van onsekerheid. Die werkloosheidsyfer, asook die baie kompetisie in sekere werksomgewings, plaas ons dikwels voor baie moeilike keuses, wat baie keer indruis teen ons geloof. Ons vind dat al meer gelowige kinders van die Here by die werkplek gekonfronteer word met die keuse oor wat etiese en Christelik verantwoordbare gedrag is.

Dit is juis hier waar Paulus se woorde vir ons van waarde is: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol. 3:23).

En wanneer ons die Here liefhet en wil dien in alle areas van die lewe, gaan dit soms beteken dat ons moeilike keuses moet maak wat dalk negatiewe gevolge gaan hê. Gelukkig is daar vir ons die wonderlike belofte dat “God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is” (Rom. 8:28).

Dankie, Here, vir die voorreg om te kan werk. Help my dat ek deur die leiding van u Gees u wil ook by die werkplek duidelik kan onderskei. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Spook ·

Nee, jy kan ou spookstories by jou huis/kerk verkondig. By skole en werke moet gedoen word waarvoor die instansies daar is.

Connie ·

Soek eers die Koninkryk van God en die res sal vir jou bygevoeg word. “Kingdom first”.

SNEL ·

As jy jou lewe vir die Here gegee het, is dit nie soos n baadjies wat jy uit en aantrek nie, maar dis iets wat so deel is van jou dat Hy oral saam met jou beweeg, of jy by die huis of werk is. Strome van lewende water wil uit jou borrel. Nog n bewys dat Sy bestaan n werklikheid is, want as jy jou lewe vir Hom gegee het, straal Hy deur jou uit en gaan Hy oral saam en los jy Hom nie by die huis as jy werk toe of winkels toe gaan nie. Jy wens so ander kan dit ook beleef en voel en hê en dis gratis en hulle is so hard soos klippe en besef nie die erens nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.