Gedagte vir die dag: Dienslewering bring tevredenheid

Natures-Valley-Boekevat-Foto-Melanie-Schlenter.jpeg

Foto: Melanie Schlenter

Lees: Filippense 2:3-11

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. (Filippense 2:3, 5, 7)

Paulus begin sy Filippensebrief deur na homself as ’n dienskneg van Jesus te verwys (Filippense 1:1). Christene behoort gewillig te wees om mekaar te dien. Jesus stel weereens vir ons die regte voorbeeld deur by die nagmaal kort voor sy kruisiging sy dissipels se voete te was. Hierna sê Hy vir hulle: “As Ek, wat julle Here en Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen” (Johannes 13:14-15).

Dienslewering is ’n eienskap wat tevredenheid in die hand werk. As ons gewillig is om diensbaar te wees in God se koninkryk gaan ons mettertyd ontdek dat ons self geestelik groei. Wees dus tevrede met jou taak as dienskneg; wees ook tevrede met die spesifieke gawes wat God aan jou toevertrou het en gebruik hulle om Hom te dien en te verheerlik in jou gemeente. Ware tevredenheid beteken immers om nie langer net vir jouself te leef nie, maar vir God; en om al hoe meer soos Jesus te word wat spesiaal na die wêreld gekom het, nie om gedien te word nie, maar om te dien.

Here Jesus, ek loof U vir die voorbeeld wat U kom stel het: dat U gewillig was om na die wêreld te kom, nie om gedien te word nie, maar om te dien. Ek wil graag in u voetspore volg. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.