Gedagte vir die dag: Diep waters en vuur

noordsee.jpgLees: Jesaja 43:1-7

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie. (Jesaja 43:1-2)

Wanneer jy deur diep water van moeilikheid gaan, sal Ek by jou wees. Wanneer jy deur riviere gaan, sal hulle jou nie wegspoel nie. Wanneer jy deur vuur van verdrukking stap, sal jy nie verbrand nie” (Jesaja 43:2, NLV). Die woord “wanneer” wil vir jou kom sê dat jy hier op aarde nie die diep waters van moeilikheid en vir vuur van verdrukking gaan vryspring nie. Dit wag vir elkeen van ons. Maar, indien jy aan God behoort, hoef dit jou nie onder te kry nie. Jy het mos God se belofte dat jy Syne is, dat Hy jou naam ken.

Omdat jy God se beloftes joune kan maak, weet jy ook dat Hy vir jou die krag sal gee om die negatiewe dinge wat vorentoe op jou lewenspad wag, te hanteer en te verwerk. Wanneer dit weer vir jou voel asof die water bokant jou kop wil toemaak en die vuur vir jou te warm word, kan jy maar net vir God aan sy beloftes herinner.

Hierdie teks was vir my al baie keer ’n persoonlike reddingstou in stresvolle tye; ’n versekering waarna ek elke keer blaai as ek in die noute is.

Here, ek loof U dat ten spyte van die feit dat ek nie die water van moeilikheid en die vuur van verdrukking gaan vryspring nie, ek aan U behoort. Ek weet U sal my van die water én die vuur bewaar. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.