Gedagte vir die dag: Bly digby God

Clarens_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Efesiërs 3:14-21 

Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. (Efesiërs 3:18-19)

In Paulus se pragtige gebed vir die gemeente in Efese bid hy dat God deur sy Gees vir hulle die krag sal gee wat hulle nodig het om geestelik te groei. So sal Christus deel van hul hele lewe word omdat hulle op Hom vertrou. Hulle lewe sal op liefde gebou wees, en deur daardie liefde sal hulle lewe die vastigheid kry wat hulle verlang. Hy bid ook dat hulle die omvang van God se liefde vir hulle sal begryp – ’n liefde wat te groot is om met ons menseverstand te begryp. God is magtig en sterk, en met sy krag werk Hy in elkeen van sy kinders en kan Hy dinge doen waar van ons nie eers kon droom nie.

Die Boodskap se weergawe van vandag se kernteks lui: “Mag God julle lewens met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van julle lewens is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie.” Die suksesresep, die waarborg vir geluk in die jaar wat voorlê, is die teenwoordigheid van God in jou lewe. God kan nog veel meer doen as wat jy kan bid of dink, sê Paulus. Hy gee altyd meer as wat ons verwag. Maar dan moet jy onderneem om in die nuwe jaar elke dag digby Hom te bly. Sien jy kans?

Here God, dit is my gebed dat my hele lewe elke dag in die jaar wat kom deur u teenwoordigheid oorspoel sal word sodat ek met elke deeltjie van my lewe digby U sal leef. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

neelsie ·

Vertrou God met alles in jou lewe.
Belangrikste in jou lewe, is die verhouding met die Drie-enige God!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.