Aanbid die Here in sy heilige glans. Laat die hele aarde voor Hom bewe. (Psalm 96:9)
Baie van ons hou daarvan om onsself as rasionele mense te beskryf. Ons wetenskaplike opleiding, maar ook ons menswees, gebeur meestal in ons kop. Dit is hoe ons opgelei is. Tog is hierdie rasionele roete bestrooi met slaggate, soos wat twee Harvardgeleerdes, Hugo Mercier en Dan Sperber, in The Enigma of Reason aantoon. Wat ons kop en ons denke volgens hulle eintlik doen, is om ons eie posisies te regverdig. O ja, en om ander mense deur argumentasie te probeer oortuig tot ons eie standpunte. Daarom kort ons dringend hulp, Bybelse hulp, bedoel ek.
Ons het regte harte nodig. Ons het harte nodig wat ons rede en ons denke nie net sagter maak nie, maar ook minder selfgesentreerd. Ons moet heelmense voor die Here wees met nuwe koppe, nuwe harte en nuwe lywe. Die Here het ons geskep om baie meer te wees as net rasionele wesens. Ons is hartmense ook. Ja, ons mag diep dink oor dinge. Ons moet ook, maar in dieselfde asem moet ons diep voel. Dan sinchroniseer ons lewe met ons Skepper se bedoeling. Dan is ons nie net rasionele wesens nie, maar ook hartmense wat die Here se liefde reg aanvoel.
Here dankie dat ek U kan vertrou om my die hartsmens te maak wat U begeer…in Jesus naam