Gedagte vir die dag: Dink jy net aan môre?

man-with-open-arms-705x335.jpgEk het vir die Here gesê: “Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.” ’n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. (Psalm 16:2, 6, 11)

Die sielkundige William Moulton Marston het vraelyste na vyf duisend mense gestuur met net een vraag: Wat het julle om voor te lewe? Drie duisend mense het vir hom terugvoering gegee. Marston was geskok om te verneem dat vier en negentig persent mense geantwoord het dat hulle die omstandighede waarin hulle tans leef, of dit nou ryk of arm, gesond of nie was, slegs verduur omrede hulle wag op iets in die toekoms om te gebeur. Hulle het op ’n groot verskeidenheid “ietse” gewag om te gebeur en geglo dat wanneer dit gebeur, hulle gelukkig sal wees. Sommige het vir kinders gewag om groot te word, ander vir die nuwe jaar wat moet aanbreek, baie vir daardie nuwe werk of reis waarop hulle so graag wil gaan. In kort, die mense het vir môre gewag, hulle het geglo hulle sal dan gelukkig wees.

Maar wat van vandag? Soms raak ons afgestomp en sien nie vandag se wonders raak nie. Dit maak ons blind vir geleenthede wat vandag ons pad kruis. Wees ook versigtig daarvoor om God in jou lewe mis te kyk. Moenie dinge vanselfsprekend neem nie, elke goeie gawe kom van God.

In vandag se teksgedeelte loof die psalmdigter die Here vir alles wat hy van God ontvang het. Hy loof die Here selfs in die nag as hy wakker word. Die Here is immers sy lewe wat vir hom vrede, geloofsvertroue, veiligheid en vergifnis bied. Hy is veilig, want die Here is altyd by hom.

Moenie dat jou lewensvreugde van jou omstandighede afhang nie. Dalk dink jy die lewe begin eers as jy getroud is, of in ’n mooi huis bly of wanneer jou kinders uit die skool is. Jy sal nooit een honderd persent met jou omstandighede tevrede wees nie en daar sal altyd omstandighede wees wat jou vreugde tap. Daarom, hou op om jou lewe uit te stel en begin leef. Maak elke dag tyd vir klein vreugdes, verlustig jou in ’n lekker koppie koffie of pragtige blomme. Gesels met ’n geliefde en met God, of luister na bekoorlike musiek.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Danie ·

Baie dankie. Mens besef dat die boodskappe 100% deel uit maak van elke oomblik van mens se lewe. Hou asseblief aan daarmee.

Ansa ·

Dankie vir mooi boodskap dit tog so waar,ek was ook so as ek tog net klaar is met skool en toe as ek tog net trou ens ens vandag is ek oud en dit is baie beter om uit te sien na elke dag wat God jou gegee het om te kan lewe kyk op na die Hemel kyk om jou na die mooi wat Die Skepper daar gestel het om te geniet Prys Sy Naam elke dag

Isabel ·

Dit is so waar. Ek is volgende jaar sewentig jaar oud. Ek geniet elke oomblik wat Vader my spaar. Ek geniet dit om ander te seen want my Vader seen my so baie. Al waarna ek uitsien is om eendag by my Vader vir ewig te kewe.

Frikkie ·

WOW! Baie waar, en die kommentaar getuig van
Vrede, Vreugde, en Blydskap wat ons net van GOD kry.

Nel ·

“Gister” was God met jou.
“Vandag” was jy onder sy sorg,
moenie bekommer oor “More”
want God is alreeds daar…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.