Dink nuut in 2022

Foto: Ian Schneider/Unsplash

Deur Jannie Pelser

“Julle gees en gedagtes moet nuut word.” – Efesiërs 4:23 (AFR83)

Ons staan aan die begin van ʼn splinternuwe jaar, die jaar 2022. God het ons hier gebring. Loof sy Naam.

Ten einde die nuwe jaar met oortuiging tegemoet te gaan, sal ʼn mens dalk met jou denke, jou ingesteldheid en ook met jou gedagtes moet handel. Ons het ʼn verstand, die vermoë om te dink, te redeneer, te onderskei en te weeg van die lewende God ontvang en Hy wil sekerlik hê dat ons dit sal gebruik.

Ek wil voorstel dat ons nuut leer dink, en dan veral oor drie belangrike sake:

  • Nuut dink oor God
  • Nuut dink oor onsself
  • Nuut dink oor ons medemens

Nuut dink oor God

Veral iets soos Covid-19 het ons verstaan van God grondig op die tafel geplaas. Ons het soveel sekerhede gehad voor die bloedstollende virus ons wêreld getref het. Soveel dinge is as vanselfsprekend aanvaar en die gedagte dat ʼn vreemde organisme ons hele wêreld onstuitbaar sou beïnvloed, was buite ons verwysingsraamwerk.

Dit beteken nie dat die lewe en die wêreld waarvan ons deel is nie uitdagings gehad het nie, maar ek is seker dat een en elkeen met my sal saamstem dat niemand iets só uitdagend en vernietigend oorweeg het nie.

Alhoewel ons bykans twee jaar met hierdie virus saamkom, is die einde klaarblyklik nog nie in sig nie. Die gevaar van verdere mutasies is nie net teoreties nie – dit is presies waar ons onsself tans bevind.

Die vraag waar God by hierdie gebeure inpas, draai sekerlik in die gedagtes van miljoene gelowiges wêreldwyd. Verwante vrae sluit in:

  • Is dit sonde wat maak dat ons nou hier is?
  • Is God kwaad vir ons?
  • Is dit ʼn teken van die tyd?
  • Is die wederkoms op hande?
  • Het God ons vergeet?
  • Staan Hy verleë teenoor hierdie vyand?
  • Bestaan God hoegenaamd?
  • As Christus dan ʼn volkome werk gedoen het, waarom lyk die wêreld so?
  • Wat verwag die Here van ons?
  • Is Hy steeds liefdevol en barmhartig?
  • Is die Bybel waar?

Ek vrees dat ek nie maklike antwoorde het nie. Om die waarheid te sê, maklike antwoorde stuit my teen die bors.

Maar te midde van baie vrae is daar goed wat ek wél weet:

  • Ek weet dat daar ʼn God is, Immanuel, God met ons.
  • Ek weet dat Hy in beheer is en nie vir ʼn enkele oomblik verleë staan teenoor die uitdagings van die lewe nie.
  • Ek weet dat Hy ons nie gelos het nie omdat Hy – God met ons – is, omdat Hy belowe het: “Ek sal julle nooit begewe en nooit verlaat nie”, omdat sy beloftes “ja en amen” is.
  • Ek weet dat Hy met hierdie wêreld op weg is en dat daar ʼn dag sal kom waarin God “alles en in almal” sal wees.
  • Ek weet dat die Koninkryk van God, sy alternatief op die gebrokenheid van hierdie wêreld, stadig maar seker besig is om deur te breek.
  • Ek weet dat Hy die oorwinnaar is in die stryd, die Leeu uit die stam van Juda, en dat elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Hy die Here is.

Ja, ek weet nie waarom die goed gebeur wat gebeur nie, maar ek weet dat hierdie ʼn “deur die sonde geaffekteerde” aarde is en dat ons nog nie in die hemel is nie.

Ek weet nie waarom so baie mense met hul lewens moes betaal, waarom daar al soveel hartseer was en waarom soveel mense so baie verloor het nie, maar ek weet dat Hy in staat is om meer te doen as wat ons bid of dink, dat elke haar op ons hoof getel is en dat ons lewensdae in sy boek opgeteken is.

Ek weet nie hoe om mense te troos wat in nood en hartseer vasgevang is nie, maar ek weet dat sy Gees die Trooster is en dat ek Hom daarmee kan vertrou.

Ek dink nou anders as God – my eenvoudige, klinkklare antwoorde, definisies en verstaan werk nie meer nie. Daar is ʼn ruimte wat niks anders as misterie genoem kan word nie, waaroor ek nie beheer het nie, wat vir my menslike verstand ontoeganklik is en wat ek liewer by Hom los tot op die dag dat ek alles sal verstaan.

Ek weet ook dat, as ek sy Naam op my lippe neem, ek bewus word van Goddelike troos, nabyheid en vrede – vrede wat alle verstand te bowe gaan.  Terwyl die trane oor my wange vloei, sing my gees – “dit is wel, dit is wel met my siel”, en ook dié van my geliefdes.

Nuut dink oor onsself

Dit is egter nie net oor God wat ons nuut moet dink nie, maar ook oor onsself as individue in hierdie wêreld.

Ek is nie so sterk en onafhanklik as wat ek begin dink het nie. Ek het bitter min beheer oor wat met my gebeur en moet baie nederig wees wanneer ek planne maak.

Ek is radikaal aangewese op God en intens gekonfronteer met my eie ewige toekoms en die vraag waar ek my oë in die ewigheid gaan oopmaak.

My gesondheid is nou ʼn enorme genadegawe en nie iets wat ek as vanselfsprekend kan aanvaar nie.

Ek is inderdaad weglaatbaar klein en kan plotseling net nóg ʼn statistiek word – nagenoeg 90 000 mense het al in Suid-Afrika gesterf.

Daar is so baie waarvan ek intens, dalk vir die eerste keer, bewus word.

Maar ek word ook bewus van die gawe van stilte, van tyd saam met God en van die sekerheid van geloof.

Ja, oor myself het ek ook nie klaar gedink nie en die formules en definisies van my bestaan verklaar helaas nie meer my menswees volledig en bevredigend nie.

Nuut dink oor ons medemens

Ek dink nie net nuut oor God en myself nie, maar inderdaad ook oor my medemens.

  • Ons is inderdaad ewe kwesbaar.
  • Ons bloed is rooi en ons trane vlak.
  • Ons is ewe afhanklik en kwesbaar.
  • Ons is op mekaar aangewese.

Ou modelle van interaksie en verstaan van mekaar werk nie meer nie. Ons kyk met nuwe oë.

Ek word daarvan bewus dat ek deel van ʼn geheel is, dat die belang van die een en die belang van die baie met mekaar saamhang en dat ek nie kan leef asof ek alleen in hierdie wêreld is nie. Die pyn van ander is ook my pyn, en die swaarkry van ander eweneens deel van my ervaring.

Deernis en omgee word die narratief waarmee ons moet werk. Praat minder veroordelend, meer waarderend, minder onverdraagsaam en meer liefdevol. Ons omarm ons gemeenskaplike beelddraerstatus en streef daarna om dit betekenisvol uit te leef.

Ou modelle het alles in die stryd gewerp om ons van mekaar te vervreem. Daar is steeds mense, en veral politieke groeperinge, wat behae daarin skep om wigte tussen mense in te dryf. Ek het ʼn idee dat die pas afgelope plaaslike verkiesings begin wys het dat mense op grondvlak nie meer gediend is met die onverwerkte riool van selfsugtige politieke en finansiële selfsug nie.

Ons het een gemeenskaplike roeping in hierdie land – om Suid-Afrika ʼn gestalte van die Koninkryk van God te maak. Die Here vertrou ons daarmee en as Christene dit nie kan regkry nie, sal niemand anders dit gedoen kry nie.

Alles nuut. Die nuwe jaar bied ʼn uitnemende geleentheid om ou modelle te herbesoek en nugter te besin of dit nog gepas en waar is.

Kyk, Ek maak alles nuut, sê God
Laat Hom wat dors het kom
En hy sal vind, hy is my kind
Ek is ʼn God vir hom.” – Gesang 177

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.