Gedagte vir die dag: Dink soos ’n mier

Rus-en-vrede-deur-Reint-Dykema

Foto: Reint Dykema.

Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd. Hoe lank gaan jy nog lê, luiaard, wanneer gaan jy opstaan? (Spreuke 6:6–9)

Salomo het rye miere dopgehou en gesien hoe hulle saadjies en stukkies gras nes toe sleep en hoe ’n spannetjie saamwerk om ’n gogga te ver­skuif. Daar is nie een wat loop en die ander aanjaag nie, trouens die grotes wat saamloop, help die kleintjies. Rye miere hou dieselfde paadjies, hulle weet presies wat hulle moet doen – kos nes toe aandra en niks meer nie. Hulle loop sonder om aangejaag te word en sonder om te voorsien wat vir hulle voorlê – vloede wat hul nes oopspoel, rowermiere wat oorneem, miervreters wat die nes oopbreek. Hulle dra kos aan. Hulle maak bymekaar vir die nes, en vir die lang winter wat voorlê. Só, sê Salomo, moet ons werk – fluks saam met die groep. Soms moet jy meer gee as wat jy gedink het jy kan, ’n swaarder las dra, vinniger aanstap, klou aan wat jy het. Werk onverpoosd, al sien jy soos miere nie te ver in die toekoms nie – net voor jou in die paadjie wat jy nou loop. ‘Saai jou saad in die môre, gaan in die laatmiddag daarmee voort. Jy weet nie watter van die twee sal ’n oes lewer nie en of altwee ewe goed sal wees nie’ (Pred 11:6).

Salomo herinner ons daaraan dat ons niks as vanselfsprekend moet aan­vaar nie. Die lewe is ’n worstelstryd waaraan jy moet deelneem of uitsak. Selfs die miere weet dit.

Hemelvader, ons ly almal onder die sondeval en die straf wat ons werk moeiliker maak. Daarom gee ons elke tree wat ons neem vir U, Here, ook die voorsiening wat ons maak vir die winter wanneer ons nie meer sal kan werk nie, al wil ons ook.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize Colton ·

Dit is so inspirerend en geestelik verrykend om elke dag hierdie boodskappe te ontvang en te deel met ander vriende en groepe op Facebook.
Baie dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.