Sit ’n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê. (Psalm 141:3)
Onthou jy daardie bekende TV-program van die 1980’s en 1990’s Cheers? Dan sal jy ongetwyfeld die karakter Cliff Clavin onthou. Hy het in die storie vir die Amerikaanse posdiens gewerk en was ’n self-erkende ekspert op enige onderwerp onder die son.
Dalk ken jy ook sulke mense.
Dit maak nie saak watter tema aan die orde is nie, hulle is selfaangestelde kenners hierop. Hoor hier, dis ’n fout om ’n opinie oor alles te hê. Die Spreukeboek skryf dat selfs ’n dwaas as wys voorkom as hy leer om sy mond te hou. Om stil te bly, is soms die heel beste roete.
Wysheid is om twee keer te dink voordat jou woorde vir altyd jou tong verlaat. Vra vir die Here om ’n wag voor jou mond te sit sodat jy nie oorhaastig jou opinie lug of dwase dinge kwytraak nie. Vra die Here om jou woorde elke dag met silwer te omraam. Dink voordat jy praat.