Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê! (Joh 15:17)
Soms leef ’n mens asof hierdie opdrag eintlik net ’n gawe aanbeveling was – so asof Jesus gesê het: “Vriende, as julle in ’n goeie bui is en lus voel, sal dit darem baie gaaf wees as julle mekaar kan liefhê – veral as die mense om julle nie te vol nonsens is nie.” ’n Mens lei dit af uit hoe ons teenoor hierdie woorde reageer in ons elke dag se lewe. Dis asof sy bevel opsioneel was – onderhewig aan omstandighede en ons eie emosionele energie.
Dit is natuurlik nie waar nie. Hierdie bevel is die skeidslyn tussen ware dissipels en gemaklike na-lopers. Na-lopers verander egter vinnig in naellopers sodra Jesus iets sê waarvan hulle nie hou nie.
Hoe ons teenoor hierdie bevel staan, verklap hoe ons teenoor Jesus staan.
As Jesus is wie Hy gesê het Hy is, is hierdie bevel nie ’n besprekingspunt nie. Dis ’n bevel van die Koning van die konings. As jy dit moeilik vind, moenie dit net ignoreer nie. Vra Jesus se hulp.
Al is die woorde vir “mans” , is dit tog stof tot nadenke vir alle gelowiges: mans vrouens en kinders. Dankie.