Gedagte vir die dag: Dissipels

Doringboom_tak_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Lees Markus 15:43-47

Josef… het ’n klip voor die ingang van die graf gerol.  (Markus 15:46)

Bybellesers verwys graag na Jesus se dissipels, en bedoel dan die twaalf mans in die binnekring. Dit is natuurlik net ‘n halwe waarheid; hiervan is die vroue wat “oral saam met Hom gegaan en Hom versorg” het en die “baie ander vroue wat saam met Hom na Jerusalem toe gekom het” (Markus 15:41) afdoende bewys.

Dan was daar Josef van Arimatea, ‘n vooraanstaande Joodse leier, wat by Pilatus gaan vra of Jesus se liggaam van die kruis afgehaal kan word. Die begrafnis moes voor sononder afgehandel word, dan breek die sabbat aan.

Só verrig dié Jood, van almal, die laaste liefdesdiens aan Jesus. G’n spoor van die twaalf nie.

Dit bly wel ‘n vraag waarom Josef nie vroeër, toe sy optrede ‘n beduidende verskil kon maak, sy stem in die Joodse Raad verhef het nie. Waarom hy stilgebly het toe in daardie raad allerlei onderduimse planne gesmee is om van Jesus ontslae te raak. Is dit vrees wat so lyk, daardie emosie wat waarskynlik ook Petrus se lafhartige optrede gemotiveer het? (vgl. Markus 14:68, 71).

Dit bly egter spekulasie, nutteloos daarby. Tensy dit hedendaagse Jesusvolgelinge gereeld herinner aan die dryfkrag agter hul optrede of gebrek aan optrede.

Here, met my hele hart wil ek ook soos daardie vroue wees wat U tot by die kruis, en daarna, gevolg het. Ek wil my nie deur ander mense se menings en my eie vrese laat voorsê nie. U ken egter my geskiedenis van struikel en val, van sukkel en strompel en afdwaal. Wees tog lief vir my, Here, ten spyte daarvan.

Bron: Uit die Beek 2021 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.