Gedagte vir die dag: Dit is my liggaam

nagmaal_stiltetyd_samuelucc-org.jpg

Foto: samuelucc.org

Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” (Markus 14:22)

Die Paasmaaltyd was vanaf die begin ʼn baie emosionele geleentheid. Reeds vanaf die intog in Jerusalem waar mense vir Jesus as die koning op die esel toegesing het tot by die voetewasdilemma het die spanning opgebou. En toe vir die maaltyd self.

Jesus se aankondiging dat die brood wat Hy breek sy liggaam is en die wyn sy bloed, moes die dissipels verwar en ontstel het. Wat sou Hy bedoel? Die laaste aantal weke het hulle al agtergekom daar hang ʼn gelaaide atmosfeer in die lug. Jesus se woorde en optrede het dit verraai. Die vrou wat die parfuum op sy kop uitgegooi het en sy reaksie daarop het daartoe bygedra. En nou dié eienaardige woorde …

Natuurlik kon die dissipels dit nie verstaan nie. Hulle sou dit egter later in herinnering roep en verstaan. Soos wat hulle die brood eet en die wyn drink en dit deel van hulle word, so sou Jesus se gebroke liggaam deel van hulle word. Deur sy dood aan die kruis het die doodsklok ook gelui vir die verlore sondaarmens wat homself met Jesus vereenselwig. Paulus het dit later so uitgedruk: “Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my” (Galasiërs 2:20).

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.