Gedagte vir die dag: Dit is vir Hom heerlik

reenboog_veld_stiltetyd_Uganda_Marco-Brits.jpg

Foto: Marco Brits (Apoka Safari Lodge, Uganda)

Die Here het vreugde daaraan om getrou te wees, Hy laat sy woord roem en eer ontvang. (Jesaja 42:21)

Dis wonderlik dat die Here sê dit verskaf Hom vreugde om getrou te wees. Dis mos hoe dit hoort, nie waar nie? Die Here stel nie eintlik belang in wetsgehoorsaamheid uit dwang nie – alhoewel dit beter is as geen gehoorsaamheid nie, nie waar nie? Soms vra mense jou tot presies waar hulle mag drink, fliek, vry, of wat ook al. Dan neem hulle hulle gedrag tot presies net daar – dan is God mos tevrede? Sulke gedrag is maar halwe gehoorsaamheid – die hart is nie daarin nie. ’n Ander tipe gehoorsaamheid is om te doen wat almal doen. Jy doen mee om nie uit te wees nie, nie omdat jy graag wil nie.

Wat God eintlik wil hê, is ’n hart wat lief is vir Hom – ’n hart wat Hom wil behaag, wat wil doen wat Hom bly maak! ’n Hart wat sy vreugde vind in gehoorsaam-wees, vir wie dit lekker is om getrou te wees, soos dit vir Hom is. Dis vir God heerlik om met sy kinders in ’n verhouding te wees en vir hulle te sorg en te seën. Dis jou belofte. Is dit ook vir jou heerlik?

Here, verander my hart al hoe meer! Amen.

Bron:
In die lig van sy genade deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marlene ·

Gehoorsaamheid sonder liefde is nie beter as niks is nie, dit beteken NIKS. 1 Korintiërs 13 sê jy kan maar alles wat jy besit en jou lewe ook prysgee, sonder liefde is dit betekenisloos.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.