Gedagte vir die dag: Dit neem tyd …

meer_man_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses” (Psalm 34:19)

Net soos daardie dogtertjie in die dokter se spreekkamer het ek ook ’n slag baie skielik in ’n ongevalle-spreekkamer beland. Ek het met my fiets geval en ’n skerp klip het my knie oopgekloof.

Nege steke en twee weke se hinkepink het my lewe in ’n laer rat gedwing. Ek kon nie self my motor bestuur nie, ek was nie baie beweeglik nie en moes nogal lank by die huis bly. Tuisbly is nie in my aard nie en ek het die tyd omgewens. Die voorgeskrewe stilsittery was ’n uitdaging soos min.

Maar stilsit het toe ook sy voordele gehad. Dit het my byvoorbeeld gedwing om, nou ja, stil te wórd.

En ek het gevind dat stilte ’n mens toelaat om behoorlik aandag te gee aan die prosesse waarmee God in jou besig is. Omdat jy meer (en dieper) as gewoonlik kan dink, en meer en beter tyd het vir bid en Bybel lees, ontdek jy nuwe waarhede. Jy verneem God se gedagtes vir jou, en terwyl jou knie besig is om te herstel, word jou hart ook gesonder.

Dit was in hierdie tyd dat ek God se praktiese werkwyse opnuut leer waardeer het. Soos ’n goeie onderwyser wat nie bloot sy leerlinge met kennis toerus nie, maar hulle ook deur toepassings in die alledaagse lewe wys hoe dinge werk, só het Hy my in daardie dae en weke gehelp.

Die lewe loop soms wilde draaie met ’n mens. Dikwels word jy ’n streep getrek wanneer jy dit die minste verwag, en dit laat jou ontnugter en selfs gebroke. Jy bly sit met ’n stukkende hart en beland op jou knieë voor God met ’n klomp vrae wat jy voor Hom wil uitskreeu.

Ons almal ken dié scenario. Maar weet almal ook dat God juis dan naby aan ons is? Die psalmdigter troos: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses” (Ps 34:19).

En wanneer ons hart breek, kan ons maar weet dat God eerste by ons is om die stukke te help optel. Dalk beleef jy dit nie so nie, maar dit verander niks aan die feite nie. Die herstelproses verloop nie veel anders as vir ’n stukkende knie nie. Jy moet in albei gevalle weet dit gaan ’n hele tydjie neem …

Nadat die dokter die wond op my knie baie mooi skoon gemaak het, noukeurig gesorg het dat elke klippie uitgehaal is, en nadat hy dit met steke geheg het, was die eerste, maklike fase afgehandel. Na afloop hiervan het ek my dag ná dag verwonder aan die genesingsproses.

Soms was ek erg gefrustreerd oor hoe lank die wond neem om te heg. Maar daar was vordering, elke dag het dit ’n bietjie beter gelyk. Met verloop van tyd het die knie gesond geword. Maar dit het lank geneem, té lank vir my ongeduldige geaardheid. Ek wou alles gouer reg hê.

En só, lyk dit my, gaan dit ook met ’n stukkende hart wat moet genees. Jy kan nie die proses aanjaag nie. Jy moet tonne geduld hê, en baie geloof in die Geneesheer. Laasgenoemde vra gereelde “dankies”, ter wille van die hoop wat tog nie moet opdroog nie. Die genesingsproses van ’n gebroke hart leer ons meer van God, en meer van onsself. Ons kom agter Hy werk te stadig na ons sin, maar ons leer ook dat Hy deegliker werk as wat ons ooit kon dink.

Here, dankie dat U gebroke harte genees, al neem dit langer as wat ons wil hê.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Strandloper ·

Dankie vir die pitkos. Ons almal kry maar klape in die leewe en Hy is n reverdige God wat die son weer laat skyn.

Stephanie ·

Die WOORD beloof nêrens dat gelowiges net voorspoed op aarde sal beleef nie. Die louteringsproses (of snoeiproses – dieselfde) is pynlik en langsaam. Ons hoop ( nie “wens” nie) is gesetel in GOD se belofte vir die ewigheid. Dankie VADER, vir U beloftes wat altyd waar is. Dankie dat U medelye het met ons arme vlees wat niks geestelik kan beoordeel nie. Dankie dat U ons ALTYD dra in moeilike tye. Geseënd is U YHWH.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.