Gedagte vir die dag: ’n Dodelike vyand

 Arend_Stiltetyd.jpg

Foto: Jannie Oosthuizen

Vind krag in julle verbondenheid aan die Here, ja, in die krag van sý sterkte! (Efesiërs 6:10)

As ons ’n positiewe toekoms wil hê, moet ons ons oë op Jesus Christus hou. Een ding wat keer dat ek ontmoedig raak, is die storie van Paasfees. Vir my is die belangrikste dag op die Christelike kalender Goeie Vrydag – wanneer ons Christus herdenk omdat Hy sy lewe vir ons gegee het.

In Streams In The Desert deur LB Cowman het ek die volgende storie gelees: “Ek het ’n witkoparend gesien wat dodelik gewond was deur ’n geweerskoot. Sy oë het nog met ’n gloed geskyn. Toe het hy stadig sy kop gedraai, en vir oulaas ondersoekend en verlangend na die lug getuur. Hy het dikwels deur die sterrehemel geswiep met sy wonderlike vlerke. Die pragtige lug was sy hart se tuiste. Dit was die gebied waaroor die arend heers.”

“Duisend maal het hy sy manjifieke krag daar benut. Ver in die hoogtes het hy met weerligstrale gespeel, resies gejaag teen die wind, en nou, so ver van die huis af, lê die arend sterwend, want hy het een keer vergeet en te laag gevlieg.

“Die siel is daardie arend. Hierdie is nie die siel se tuiste nie en moet daarom nie ophou om hemelwaarts te kyk nie. Ons moet ons geloof behou; ons moet ons hoop behou; ons moet moed hou; ons moet Christus behou. Ons moet dadelik van die slagveld af wegbeweeg as ons nie gaan dapper wees nie. Daar is nie tyd vir die siel om halsoorkop te vlug nie. Kyk hemelwaarts, my siel!”

Wanneer ons hoop uit die oog verloor, vul mismoedigheid ons. Soos die storie hierbo toon, sal ons heel waarskynlik deur ’n geweerskoot getref word as ons te laag vlieg. Wanneer ons egter in God se teenwoordigheid hoog vlieg, sal mismoedigheid geen houvas op ons hê nie. Kom ons hou ons fokus op die Here se beloftes. Stel jou vertroue in Hom, nie in jou omstandighede nie.

Vader, dit is maklik om moedeloos te raak as probleme my oorweldig en ek nie meer weet watter kant toe nie. Help my om hoog te vlieg en my fokus op U te hou. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elma ·

Baie dankie vir elke dag se boodskappie. Waardeer dit so baie.

John ·

Nee, Paassondag, die dag van Opstanding, is die’ dag om te gedenk. As Christus gesterf het en nooit opgestaan het nie, was Sy sterfte en opoffering tevergeefs en ons mensdom gedoem. Christus is die Seun van G_d en nie bloot net ‘n profeet of ‘n goeie predikant nie. Sou Hy gesterf en nie op die derde dag opgestaan het nie, was die dood nie oorwin nie en sal Sy wederkoms nie plaasvind nie. Die kruis en die graf is leeg en Christus het opgevaar na Sy Vadershuis waar Hy tans vir ons ‘n tuiste voorberei waarheen ons sal vertrek wanneer die Vader in Sy groot en goeie Wil so besluit.

Eish ·

Drie dae en drie nagte in die graf.
Mattheus 12:40
” Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”
Jesus se eie woorde. Dus 72 uur.
Gekruisig op Pasga Woensdag 31NC laat middag en opgestaan op die Sabbatdag (Saterdag) laatmiddag.
72 uur presies soos Hy voorspel het. Die Goeie Vrydag is n Katolieke heidense gebruik wat herdoop is na Easter, is om die godin in van vrugbaarheid te eer. Waar dink jy kom die paaseiers in die prentjie?

Dries ·

Hierdie boodskap bring troos en hoop in my hart, asook wat John genome het die opstanding, ons as gelowiges sal opstaan uit die dood om vir ewig by die Here te lewe, wat ‘n fantastiese hoop het ons nie om aan vas te klou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.