Gedagte vir die dag: Doen dit self

sonsopkoms_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

… Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (2 Korintiërs 10:5)

Wees vasberade om sekere dinge te dissiplineer. Dit is nog ’n moeilike aspek van die volhardende aard van heiligheid. Volgens die Moffatt-vertaling klink Paulus se woorde so: “Ek maak van elke projek ’n gevangene om dit te dwing om Christus te gehoorsaam … ” Daar is baie Christelike werk wat nooit gedissiplineer is nie, maar slegs op die ingewing van die oomblik tot stand gekom het. In die lewe van Jesus is elke projek gedissiplineer volgens die wil van sy Vader. Daar was nooit by Hom die geringste neiging om die instink van sy eie wil te volg as dit enigsins van die wil van sy Vader sou verskil nie. “ … Die Seun kan niks uit sy eie doen nie … ” (Joh. 5:19). Vergelyk dit nou met ons optrede. Ons neem elke gedagte of projek wat by ons opkom impulsief “gevange” en gaan onmiddellik oor tot aksie, in plaas daarvan dat ons onsself gevange neem en dissiplineer om Christus te gehoorsaam.

In ons dag word praktiese werk vir Christene oorbeklemtoon en daardie heiliges wat elke gedagte en projek gevange neem, word gekritiseer deur te sê dat hulle nie gedetermineerd genoeg is nie en dat hulle nie ’n ywer vir God of die siel van ander het nie. Maar ware ywer en vasberadenheid lê daarin dat ons God gehoorsaam is en nie die neiging om Hom te dien volgens dit wat in ons eie, ongedissiplineerde natuur na vore kom nie. Dit is ondenkbaar, maar nogtans waar, dat heiliges nie elke gedagte en projek gevange neem nie, maar eenvoudig ’n werk vir God doen wat deur hul eie menslike natuur opgewek is, en nie deur volhardende dissipline vergeestelik is nie.

Ons is geneig om te vergeet dat ’n mens nie net aan Jesus Christus toegewy is vir verlossing nie, maar ook toegewy, verantwoordelik en toerekenbaar is aan Jesus Christus se siening van God, die wêreld, sonde en Satan. Dit beteken dat elke mens moet besef dat hy verantwoordelik is om verander te word deur die vernuwing van sy gemoed (vgl. Rom. 12:2, 1953-vertaling).

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.