Gedagte vir die dag: Doen dit self

man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die wapens van ons stryd is nie die wapens van die mens nie, maar die kragtige wapens van God wat vestings kan vernietig. Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (2 Korintiërs 10:4-5)

Wees vasberade om sekere dinge te vernietig. Bevryding van sonde is nie dieselfde as bevryding van die menslike natuur nie. Daar is sekere dinge in die menslike natuur, soos vooroordeel, wat ’n heilige kan vernietig bloot deur dit te ignoreer. Maar daar is ander dinge wat met geweld vernietig moet word, dit wil sê deur God se bonatuurlike krag wat sy Heilige Gees verleen. Daar is sommige dinge waaroor ons nie hoef te baklei nie, maar net kan … “ … (s)taan … [en] kyk hoe die Here … red … ” (Eks. 14:13). Maar elke teorie of gedagte wat soos ’n versterkte vesting “teen die kennis van God gerig word” moet met vasberadenheid vernietig word deur uit God se krag te put en nie deur menslike pogings of kompromieë nie (vgl. 2 Kor. 10:4­5).

Hierdie geveg begin eers wanneer God ons natuur verander en ons die ervaring van heiligmaking betree. Die geveg is nooit teen sonde nie, want ons kan nooit daarteen veg nie. Jesus het dit verslaan toe Hy ons verlossing bewerk het. Die konflik wat ontstaan, is om ons natuurlike lewe te verander in ’n geestelike lewe. Dit is nooit ’n maklike taak nie, en God het ook nie bedoel dat dit moet wees nie. Dit word slegs bereik deur ’n reeks morele keuses wat ons moet maak. God maak ons nie heilig in die sin dat Hy vir ons ’n heilige karakter gee nie. Hy heilig ons daarin dat ons onskuldig voor Hom kan staan. Dan moet ons daardie onskuld omskep in ’n heilige karakter deur die morele keuses wat ons maak. Hierdie keuses is voortdurend vyandig en in teenstelling met ons natuurlike lewe wat so diep in ons wese ingegrawe is, daardie einste dinge wat hulle soos sterk vestings teen die kennis van God verhef. En ons kan óf terugdraai en van geen nut wees vir God se koninkryk nie óf ons kan vasbeslote wees in die vernietiging van hierdie dinge en Jesus só toelaat om nog ’n seun in sy heerlikheid in te bring (vgl. Heb. 2:10).

Bron: My allerbeste vir Sy Hoogste deur Oswald Chamber
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Amen en Amen

dis duidelike perspektief en moet sowaar elke dag oordink word om dit enduit na te streef

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.