Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan. ( Kolossense 3:23–24)
Jy weet nie wat ná jou gebeur en watter invloed jou lewe, liefde en opofferings op die toekoms van mense het nie. Toe Rut by Naomi aangedring het om saam met haar terug te gaan Juda toe, het sy nie besef dat Jesus Christus uit haar nageslag gebore sou word nie (lees die geslagsregister van Jesus in Matteus 1:1–17).
Rut, die Moabiet, neem ’n prominente plek in as grootouma van Dawid uit wie se nageslag die Messias verwag is. ‘Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie,’ sê die engel Gabriël in Lukas 1:32–33 vir Maria toe hy die geboorte van Jesus aankondig.
Rut het voet by stuk gehou dat sy saam met Naomi Betlehem toe gaan. En Naomi het besef dat sy dit bedoel het, nadat sy haar geloof in die God van Israel bely het met: ‘U God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei’ (Rut 1:16–17). Hoe kon sy haar toe in die land van afgode agterlaat?
Rut het haar versorg deur op die oeslande te gaan are optel. Sy het Naomi se raad gevolg en Boas, wat haar losser was, se aandag getrek. Haar liefde vir haar skoonmoeder het uitgeloop op die grootste wonder van alle tye – die geboorte van Jesus, ons Verlosser.
Sonder dat Rut dit kon weet, is ook sy uit genade gered.
Baie dankie, Hemelvader, vir mense uit ons voorgeslagte wat U en hul naaste onselfsugtig gedien het en die lig van die evangelie in ons donker land kom aansteek het.
Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media
Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital
Amen
Baie dankie vir die dag stukkies in ons lewe nou het ons altyd sulke bemoediging nodig Baie dankie