Gedagte vir die dag: Doen dit vir die Here

God

Argieffoto

Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan. ( Kolossense 3:23–24)

Jy weet nie wat ná jou gebeur en watter invloed jou lewe, liefde en opofferings op die toekoms van mense het nie. Toe Rut by Naomi aangedring het om saam met haar terug te gaan Juda toe, het sy nie besef dat Jesus Christus uit haar nageslag gebore sou word nie (lees die geslagsregister van Je­sus in Matteus 1:1–17).

Rut, die Moabiet, neem ’n prominente plek in as grootouma van Dawid uit wie se nageslag die Messias verwag is. ‘Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie,’ sê die engel Ga­briël in Lukas 1:32–33 vir Maria toe hy die geboorte van Jesus aankondig.

Rut het voet by stuk gehou dat sy saam met Naomi Betlehem toe gaan. En Naomi het besef dat sy dit bedoel het, nadat sy haar geloof in die God van Israel bely het met: ‘U God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê ’n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei’ (Rut 1:16–17). Hoe kon sy haar toe in die land van afgode agterlaat?

Rut het haar versorg deur op die oeslande te gaan are optel. Sy het Naomi se raad gevolg en Boas, wat haar losser was, se aandag getrek. Haar liefde vir haar skoonmoeder het uitgeloop op die grootste wonder van alle tye – die ge­boorte van Jesus, ons Verlosser.

Sonder dat Rut dit kon weet, is ook sy uit genade gered.

Baie dankie, Hemelvader, vir mense uit ons voorgeslagte wat U en hul naaste onselfsugtig gedien het en die lig van die evangelie in ons donker land kom aansteek het.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ann ludeke ·

Baie dankie vir die dag stukkies in ons lewe nou het ons altyd sulke bemoediging nodig Baie dankie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.