Gedagte vir die dag: Doen wat goed is

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 37:1-9

Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van ’n skelm nie. Moenie kwaad word nie … (Psalm 37:7-8)

Dit is darem maklik gesê. Daar is immers min dinge wat goeie, gewone mense so erg ontstel soos openlike skelmstreke, veral as die kansvatters boonop daarmee wegkom en op die oog af ál voor- spoediger word.

Hoe word daar nie in elke land in die wêreld, ook ons s’n, op die tande gekners wanneer korrupsie nogmaals aan die kaak gestel word nie? En die fluitjieblaser wat dit ontbloot of die media wat dit berig, word verdag gemaak of van kwaadwilligheid beskuldig. Deurentyd kry jy die indruk dat die oortreders hulleself as onskuldig wil voordoen, as slagoffers van ’n bose sameswering – en dit maak jou nóg kwater.

Die psalmdigter se raad is eenvoudig: Hou op om jou oor sulke dinge te verknies, veral as jy niks daaraan kan doen nie. Jy gaan niks regkry deur daaroor te skel nie. Hier is die beste uitweg: “(D)oen wat goed is, woon en werk rustig voort” (v. 3).

In ons tyd en taal beteken dit ongeveer dieselfde: Daar is boosheid in hierdie lewe en hierdie land én in jou omgewing. Moenie doen wat daardie ellendelinge doen nie. Moet jou nie daarby laat intrek nie. God is jou Voorsiener en Versorger.

Daardie mense se leefwyse verdien nie ’n tweede kyk nie. Lê jou toe op positiewe gesprekke en opbouende optrede. Ban hulle en hul doen en late uit jou gedagtes, sodat jy met gespitste ore kan luister as die Here jou eenkant toe roep met ’n spesifieke opdrag.

Kortweg: Soek na wat goed is vir God en jou naaste, en doen dit dan.

Wys my, Here, waar ek ’n verskil kan maak. En waar nié. Maak my dan gehoorsaam.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.