Gedagte vir die dag: Doen wat jý moet doen … góéd

reënboog.jpg

Foto: credomag.com

God het vir ons elkeen besondere hemelse geskenke gegee. Ons almal het nie dieselfde geestelike geskenke van Hom ontvang nie. God het dit aan ons elkeen uitgedeel soos Hy goedgedink het. (Romeine 12:6, Die Boodskap)

Een ding wat ’n mens nogal gedaan kan maak, is om jouself en jou eie situasie die heeltyd met ander te vergelyk. Want jy sal altyd mense sien wat in beter of slegter posisies as jy is. Wat ryker en armer is. Wat hul roeping gevind het en dit merk waardig uitleef en hulle wat maar aanploeter met die lewe.

Daarom is die vraag nooit: “Hoe lyk ek teenoor ander?” nie, maar eerder: “Is ek wie God bedoel het ek sal wees? Leef ek mý roeping op aarde uit?” Eers wanneer jy geleer het om God se wil vir jou lewe te soek en dit na die beste van jou vermoë uit te leef, leef jy jóú roeping uit.

Martin Luther King jr stel dit só: “As iemand geroep word om ’n straatveër te wees, moet hy strate vee soos wat Michelangelo geskilder het, Beethoven gekomponeer het en Shakespeare geskryf het. Hy behoort die strate so goed te vee dat die engele in die hemel sal gaan stilstaan en sê: ‘Hier leef ’n geroepe straat- veër.’”

As jy dit waarvoor God jou geroep het, na die beste van jou vermoë doen, is jy nooit met onbenullighede besig nie. Dan leef jy sy plan vir jou lewe uit. En dan sal jy nooit moeg word vir dit waarmee jy besig is nie.

Here God, dankie dat U my – gewone mens – ook gebruik.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bets Bothma ·

Sjoe, dis so waar, want ons is tog nie almal Einsteins nie. As ons net elke dag ons werk so doen asof ons dit vir God doen, dan sal ons mos seën op ons werk ontvang!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.