Gedagte vir die dag: Doen wat jy sê

Roos_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hulle wat korrup en ongelowig is, gee voor dat hulle God ken, maar hulle lewe weerspreek dit. (Titus 1:16)

Titus was ’n Griek wat deur Paulus se toedoen ’n Christen geword en verder in die geloof versterk is. Soos Timoteus was Titus een van Paulus se naaste vriende en reisgenote wat ook namens Paulus na verskillende gemeentes gereis het. Hierdie keer het Paulus Titus op Kreta agtergelaat om ouderlinge aan te stel in die nuwe gemeentes. Hierdie brief bevat raad oor watter soort mense die beste sal wees om te kies. Die apostel waarsku die jong leier ook teen vals leraars wat die gemeentes wil binnekom en bemoedig hom om altyd ’n goeie voorbeeld te stel vir die ander gelowiges.

Titus het ’n yslike taak voor hom gehad, want die Kretensers was oor die algemeen bekend (selfs onder hulle eie profete!) as leuenaars, wilde diere en lui vrate (Tit. 1:12). Uit die nuwe gelowiges in so ’n omgewing moes Titus nou mense uitsoek met die potensiaal om tot volwasse leiers in die geloof te ontwikkel. Titus sou fyn onderskeidingsvermoë nodig hê om mense te vind wat voldoen aan die  eienskappe wat Paulus in sy brief uitgestippel het. In teenstelling met die mense waarna Titus 1:16 verwys, moes Titus mense kies wat sê dat hulle God ken, maar wat dit ook met hulle dade bewys.

Hoe dink jy vaar jy? Gee jy voor om God te ken, terwyl jy Hom met jou lewe verloën? Of voldoen jy aan Paulus se standaarde van doen wat jy sê; van uitleef wat jy bely?

Leef jy jou geloof uit? Wat sal die mense wat die naaste aan jou leef van jou lewe sê?

Bron:
My Stiltetyd-Oordenking
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

OWO ·

Mense wat geskik is vir geestelike leierskap moet die Vrug van die Gees besit.Gal 5:22.Die persone moet ook die 7 kern deugde besit naamlik Geloof Hoop,Liefde,Wysheid,Selfbeheersing,Waagmoed en Geregtigheid.Dit kan slegs verkry word deur volgehoue studie, gebed en genade wat jy elke dag ontvang.
Een van die sleutel vereistes om mee te begin is die Vredes beginsel.Jy moet in Vrede met alle mense leef.Dit kan moelik wees maar nie onmoontlik nie.Wie is jou naaste?Elke mens wat jou pad vandag kruis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.