Gedagte vir die dag: Donkerte rondom

windpomp_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Wie van julle dien die Here en luister na sy dienaar? Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou, moet op sy God steun. (Jes 50:10)

Lees Jesaja 50:7-11

In Jesaja se tyd het dit baie sleg gegaan met God se volk. Hulle was in ballingskap en het by tye gemeen dat God van hulle vergeet het. Hulle omstandighede was pikdonker. Maar dan troos Jesaja hulle. “Wie in die donker loop en geen lig sien nie, moet op die Here vertrou,” is sy raad. God is nog altyd daar vir hulle en Hy onderneem om hulle weer te help soos Hy soveel kere in die verlede gedoen het.

In die Bybel word swaarkry baiekeer met donkerte vergelyk. Ook kinders van die Here beleef donker tye. In hierdie donkerte stamp ’n mens maklik jou toon teen ’n klip of jy raak soms selfs die pad byster. God belowe om daar te wees wanneer dit donker word om jou. “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig,” getuig Dawid in Psalm 23:4.

As jy op die oomblik ’n donker tyd beleef, laat God toe om vir jou ’n lig te wees. “U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my,” bely die psalmdigter (Ps. 18:29). Vertrou Hom om dit nou vir jou te doen.

Hemelse Vader, ek loof U dat U vir my ’n lig is, dat U altyd by my is om my veilig deur die donker tye in my eie lewe te lei. Dankie dat ek seker kan weet dat U my nooit alleen sal laat in die donkerte nie. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.