Gedagte vir die dag: Donkerwerk

ligtoring_4_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Romeine 13:11-12

Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis … (Romeine 13:12)

Dit is een van daardie verse wat die vrese vir die hel op Godskinders loslaat. Of hulle minstens dieprooi laat bloos. Dié saak van donkerwerk, wat dikwels konkelwerk is.

Die blote herinnering daaraan, en veral die vrees dat iemand dalk daarvan mag uitvind, laat jou sommer in bloedsweet uitbars. As jy boonop vrees dat ’n oordeel van Bo op jou wag oor hierdie “werke van die duisternis” waaraan jy so lustig en belustig meegedoen het, dán bewe jy so groot (en so oud) soos jy is.

Soos dit egter met Bybelverse en brokkies daarvan is, vertel dié twee gelese verse ook hier nie die volle verhaal nie. Die saak is selfs ingewikkelder en beslis erger as jou vrees dat jou konkelwerk op die lappe gaan kom.

Paulus skryf in dié hoofstuk oor die las van  liefhê  (vgl. Rom 13:8-10). Oor hoe naasteliefde die “volle uitvoering van die wet” is (v. 10). Dat dit “nag” is waar dié wet nie uitgeleef word nie. Dat dit goddank “amper dag” is (v. 12).

Natuurlik verwys hy hier na die “tyd van ons finale verlossing” (v. 11), wanneer Jesus sy volgelinge kom haal en hulle ook van die owerhede (vgl. Rom 13:1-7) verlos sal wees. En dit is met die oog hierop dat hy mooi vra dat die Godskinders moet ophou om in hul donker hoekies weg te kruip. Dat hulle die dagbreek tegemoet moet dans, hand aan hand met hul medemens.

Nee, dit is nie eenvoudig nie. Liefhê is ’n swaar opdrag. Maar dit is juis donkerwerkers se verlossing. Sê Petrus dan nie dat die liefde baie sondes bedek nie? (vgl. 1 Pet 4:8). En einste Paulus dat die liefde alles bedek nie? (vgl. 1 Kor 13:7).

Verlos my, Here-van-die-lig, van my liefde vir die donkerte. Maak my oë en my hart gewoond aan u lig.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
FM

Amen.

Om in die LIG te lewe is suiwer genade

IMMANUEL

Yvonne

Here die effek wat so n donker lewe het is so tragies en selvernietigend….dankie dat U gekom het as ons Lig ons kom vrykoop het van sonde….ons Redder en Verlosser