Gedagte vir die dag: Die dood het nooit die laaste woord nie

son_hoop_wolke_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees: 1 Petrus 1:3-9

In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.  Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. (1 Petrus 1:3-4)

Baie mense is bang vir die dood.  En dit is so onnodig wanneer ons weet dat ons aan God behoort.  Vir Christene het die dood nooit die laaste woord nie.  Dit is eerder ’n deurgang na die eintlike lewe.  Jesus het met sy opstanding die graf en die dood oorwin, en daarmee het Hy dit vir ons moontlik gemaak om dieselfde te doen.  Vir jou hoef die dood dus nooit die laaste woord te hê nie.  ‘Die graf is nie ’n doodloopstraat nie.  Dit is ’n deurgang.  Die deur gaan toe in die skemer.  Dit maak oop op die dagbreek,’ skryf Victor Hugo.

Indien jy nie in Jesus se opstanding uit die dood glo nie, is jou geloof waardeloos.  Dan is jy inderdaad nog vasgevang in jou sondes, verduidelik Paulus aan die gemeente in Korinte (1 Kor. 15:17).  Maar as jy in Jesus se opstanding glo en saam met Hom gesterf het, het jy die versekering – volgens ons kernvers vir vandag – dat jy, soos Hy, ook eendag uit die dood sal opstaan en vir ewig saam met Hom sal leef.  Dan het jy ‘’n lewende hoop’ op die ‘onverganklike erfenis’ wat Hy in die hemel vir jou in bewaring hou.

Here Jesus, baie dankie dat U gesterf en uit die dood opgestaan het, sodat ek, as ek in U glo, ook eendag in ’n nuwe lewe kan opstaan en vir altyd saam met U in die hemel sal kan leef.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lena Jonk ·

Dankie ons Almagtige God dat U vir elkeen van U kinders n deposito hou in die Hemel, deur U genade help ons om eendag daar by U te wees en gereed sal wees as U vir ons kom haal.

Yvonne Brown ·

Dankie Here vir die grootste geskenk wat die mensdom nog ooit gekry het . Amen

Dries ·

Aan GOD slegs die allerheiligste respek en eerbied en dankie vir Sy ontsettende liefde vir ons, dat Hy deur Jesus dit vir ons moontlik gemaak het om op te staan uit die dood en vir ewig by Hom te lewe. Wanneer mens se gunsteling vakansie alhoe nader kom raak mens altyd alhoemeer opgewonde en opgeruimd, hoeveelkeer meer opgeruimd en opgewonde moet ons nie word hoe nader Jesus se wederkoms kom nie!!! , dankom Hy ons haal om vir ewig by Hom te wees!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.