Gedagte vir die dag: Dra die gevolge

 desert-wind.jpg

Foto: papa’rocket

Wie sy huishouding verwaarloos, sal naderhand net wind oor hê. (Spreuke 11:29)

Ons kry nie almal dieselfde geleenthede nie, nog minder dieselfde karaktertrekke, talente, intelligensie en werkywer. Maar onder ons gewone mense is daar selde iemand wat net mooi niks ontvang het nie. Daar­om het Jesus die gelykenis van die muntstukke vertel: ’n Man het sy slawe geroep en vir elkeen ’n paar muntstukke gegee – vir die een vyf, vir die ander twee en vir die laaste een een. ‘Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid ge­gee en toe op reis gegaan’ (Matt 25:15). Let wel – die Here gee ons nooit meer verantwoordelikhede as wat ons kan dra nie.

Die slaaf met die vyf muntstukke het gaan werk en woeker en nog vyf byverdien, die een met twee muntstukke het dit ook verdubbel. Maar die slaaf wat net een muntstuk gekry het, het dit gaan begrawe en niks daarmee uitgerig nie. Toe die eienaar van die slawe terugkom, het hy die eerste twee geprys en die derde een ’n dwase luiaard genoem en in die buitenste duister­nis uitgewerp.

Vir ons klink die verhaal miskien wreed en onregverdig, maar Jesus is ernstig oor mense wat hul kanse verspeel. Selfs al kry jy min, gee dit jou nie ’n ver­skoning om niks te doen nie. Daar is baie wat met ernstige gestremdhede ge­bore word en nogtans presteer. Nick Vujicic wat sonder bene en arms deur die lewe gaan, inspireer duisende mense met sy avontuurlike lewensuitkyk. Natalie du Toit wat haar been in ’n motorongeluk verloor het, presteer as Olimpiese swemmer. Nick se motto is: ‘Almal kan met God se liefde.’

En ek en jy? Hoeveel het ons ontvang om mee te woeker? Dit kan ek jou verseker – as jy die Here liefhet en eer en jou talente tot sy beskikking stel, sal jy dit nie halfhartig doen nie.

Hemelvader, dankie vir die goue muntstukke wat U vir ons gee om mee te werk tot eer van u Naam en tot verheerliking van u koninkryk.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert Hattingh ·

Ek het net die naweek op youtube gekyk na ‘n dvd klip van Nick Vujicic, sy uitkyk op die lewe laat mens besef wat die vrug van ware geloof en vertroue in GOD is. Dankie vir die inspirasie elke oggend.

Santjie stoof ·

Kinders van God in SA, jul het die munt van die Heilige Gees gekry deur Jesus Christus. Gebruik dit om in te tree vir ons land en volk. Glo en vertrou en spreek lewe nie dood nie.
My God can do anything.
What a mighty God we serve.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.