Gedagte vir die dag: Dra mekaar se laste

Foto: holdinghopeservices.com

Foto: holdinghopeservices.com

Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus. (Gal 6:2)

Lees Galasiërs 6:1-9

Hedendaagse mense sien mekaar nie meer raak nie omdat tyd ’n luukse geword het. Ons gee eenvoudig nie meer regtig vir mekaar om nie omdat ons te gejaagd lewe. Dit is egter nie hoe ’n Christen behoort te lewe nie. “Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê,” lui hierdie vers in Die Boodskap.

Om werklik vir ander mense om te gee beteken dus dat jy gewillig sal wees om in hulle skoene te staan, dat jy werklik sal weet hoe hulle dink en hoe hulle voel. In Romeine 12 gee Paulus ’n praktiese beskrywing van hierdie soort omgee. “Die liefde moet opreg wees. Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid. Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur” (v. 9, 13, 15).

Uit die manier waarop jy ander mense behandel, kan hulle sien of jy aan Christus behoort. Jy behoort ’n venster te wees van Jesus se omgeeliefde vir ander. As mense na die dinge kyk wat jy doen, behoort hulle Hom raak te sien. Probeer van nou af Johannes se raad volg: “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het” (1 Joh. 2:6).

Here Jesus, maak dit asseblief vir my moontlik om om te gee soos U omgegee het, om te lewe soos U geleef het, om ander mense se nood raak te sien en hulle te help. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JAKKIE ·

Ek is al so lank op julle blad en vanoggend wou ek plaas en vra of julle bereid is om ons te help….toe sien ek hierdie berig en ek weet dat dit nie per toeval was nie ek glo nou dat dit die oopdeur is nadat ons soveel pyn hartseer en vrae het ivm ons seun se dood …baie dankie dat julle die geplaas het

Franco ·

Julle app werk van gister nie op my Iad. Maak nie berigte oop. Iets wat ek kan doen?

Sune van Heerden ·

Dagsê Franco

Dankie dat jy ons hieroor kontak. Ons ondervind tans ‘n tegniese probleem op die app en probeer dit so gou as moontlik regstel.
Dankie vir jou geduld!

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sune van Heerden ·

Dagsê Franco

Dit lyk of die probleem sopas opgeklaar is.
Dankie vir jou geduld!

Groetnis
Suné

Anoniem ·

Jakkie vertrou net op God en daar sal berusting kom. Gelukkig is die hartseer en seerkry net tydelik in die wereld maar dan kom die ewige vreugde en geluk saam met Vader.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.