Gedagte vir die dag: Dra vrug vir Jesus

sonsondergang_mense_strand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Elkeen wat aanhou sonde doen, doen ook wat teen die wet is, want sonde is wetteloosheid. (1 Johannes 3:4)

Die Here sê ons sal aan ons vrugte geken word (Matteus 7:15-20). ’n Appelboom dra nie lemoene nie. So ons moet God se opdragte gehoorsaam en goeie vrugte dra. Die mens wat sonde haat en God dien, is iemand wat in God bly.

God vra dat ons heilig sal leef. Ons sal aan ons vrugte geken word, en die liefde is hiervan die grootste. Onthou, sonde is om God se wet te breek. Ons moet dit nie doen nie. Ons moet gehoorsaam wees aan God se Woord. As ons die wet geringskat, het dit geweldige implikasies. Moenie jou eie standaarde verlaag omdat ander mense dit doen nie. Die Here sê: “Nie almal wat vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie. Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was” (Matteus 7:21).

Ek onthou so goed hoe ek met daardie groot geel 20-ton-Mercedes Benz-lorrie vol Bybels in Afrika rondgegaan het. Op een punt was ons al drie weke op reis en doodmoeg. Eendag het ons in ’n klein dorpie aangekom waarin daar ’n klein kantoortjie was. Toe ek instap, was ’n jong vrou agter die toonbank, en ek kon die liefde van Jesus in haar sien. Sy het vir my gesê: “Hier is my huis se sleutels. Gaan na my huis toe en gaan tap vir julle ’n lekker warm bad. En vra die vrou wat daar werk om vir julle ’n lekker papaja-slaai te maak.”

Daardie jong vrou het nooit iets in ruil vir haar goedheid gevra nie. Sy het saam met ons gebid, en ons het verder gegaan. Haar klein daad van vriendelikheid het ons vir baie weke gedra. Laat ons vandag die vrug van die Gees dra. Kom ons gehoorsaam die wet.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.