Gedagte vir die dag: Draai jou wêreld om jou?

mense_stap_strand_skulpe_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Aangesien julle die troos in Christus ondervind het … Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. (Filippense 2:1, 3-4)

In die moderne en gejaagde samelewing waarin ons leef, gebeur dit so maklik dat ons selfgerig raak. Ons snel verby mense en sien skaars hulle nood of seer raak. Ons voel ons het genoeg probleme van ons eie en daar is werklik nie nog tyd om na ’n ander se hartseerstorie te luister nie. Voor ons ons kan kry is ons selfsugtig en selfbehep en gee ons nie ’n duit vir ander om nie.

Vandag probeer mense dikwels selfsug verdoesel deur op hulle “regte” te staan. Hulle dink: Ek kan hier maar oneerlik wees; ek verdien in elk geval beter, of: Ek gaan ’n aborsie laat doen, ek is baas oor my eie liggaam. Gelowiges mag nie hierdie soort instelling hê nie. As jy sê jy is ’n Christen, moet jy ook bereid wees om te leef soos Christus geleef het. Jou optrede moet wys jy is bereid om nederig diens te lewer, selfs al sou jy geen erkenning daarvoor kry nie. Moenie vasklem aan jou regte nie!

Baie mense, ook gelowiges, leef net om ander te beïndruk of hulle eie behoeftes te dien. Dit is niks anders as selfgesentreerdheid nie. Ons moet Christus se voorbeeld volg en ander se belange op die hart dra. Hy het ter wille van ons gely. Maak vandag ’n punt daarvan om nie net aan jou eie behoeftes te dink nie, tree so op dat ander mense daardeur na God getrek word.

Om nederig te wees en ander in ag te neem beteken allermins dat ons op ons moet laat trap. Nee, dit beteken dat ons onsself sien soos God ons sien, ʼn sondaar wat deur God se genade gered is. Ons is gered, en daarom is ons vir God kosbaar. Nou moet ons bereidwillige instrumente in God se hande wees, om sy Woord te verkondig en sy liefde teenoor ander uit te leef. Paulus beklemtoon in byna al sy briewe dat ons in eendrag met kinders van die Here moet saam lewe. Hy sê ons moet mekaar opreg liefhê.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.