Drie weeskinders se gebede word beantwoord

Sitara staan ondanks haar moeilike omstandighede sterk in haar geloof en haar verhouding met die Here (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Sitara* (21) is een van talle Christene in landelike Indië wat weens haar geloof deur die plaaslike gemeenskap verwerp word.

Indië, tans die wêreld se grootste demokratiese land, is ook die tiende gevaarlikste land vir Christene ter wêreld. Die gewelddadige vervolging van gelowiges in hierdie land het die afgelope vyf jaar drasties toegeneem.

Vir jong Christene soos Sitara is elke dag ʼn uitmergelende stryd om ʼn inkomste te verdien en kop bo water te hou. Die Covid-19-pandemie het dié kommerwekkende situasie verder vererger deurdat hulle tydens die inperking nog meer vervolging ervaar en voedselhulp deur die regering geweier word.

Ontberings op ʼn jeugdige ouderdom

Hoewel Sitara slegs 21 jaar oud is, tree sy al die afgelope ses jaar as ʼn surrogaatouer op vir haar jonger boetie en sussie. Sy was ʼn skamele 15 jaar oud toe sy, haar negejarige boetie en tweejarige sussie wees gelaat is en sy eiehandig na hulle moes begin omsien.

Sitara moes op ʼn jeugdige ouderdom ophou skoolgaan om na haar verlamde moeder om te sien. Sedertdien moes sy al talle uitdagings te bowe kom – nie net omdat sy haar ouers kort na mekaar aan die dood afgestaan het nie, maar ook oor haar Christen-geloof.

“Ek het die Here aangeneem toe ek ʼn tiener was en Hy het ʼn leemte in my gevul wat niemand anders kon vul nie. Ek het begin om kerk toe te gaan en gebedsbyeenkomste by te woon, maar my pa was woedend toe hy dit uitgevind het. Hy het my in die openbaar aangerand en as straf moes ek dan sonder aandete bly,” sê sy.

Verwerp deur die gemeenskap

Sitara moet talle uitdagings trotseer om na haar boetie en sussie om te sien nadat hulle op ʼn jeugdige ouderdom wees gelaat is (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Die plaaslike gemeenskap het met beide Sitara se ouers se dood geweier om hulle te help en haar geloof vir hul dood blameer. Hulle het haar beledig en as ʼn verraaier bestempel omdat sy die Here dien. Boonop is sy nie toegelaat om haar ouers in die dorpsbegraafplaas te begrawe nie en moes sy hulle in die veld ter ruste lê.

Sy en haar boetie, Shekhar, wat nou 15 is, werk gewoonlik as dagarbeiders om hulself en hul agtjarige sussie te onderhou. Maar toe die Covid-19-pandemie aanbreek, het hul lewens nog moeiliker geraak omdat hulle sukkel om werk te kry.

Hulle woon in ʼn modderhut sonder vensters, met ʼn gebreekte deur en geen beddens of matrasse nie – hulle gebruik dieselfde verweerde matjies waarop hulle bedags sit om snags op te slaap. Sommige dae is hul kos so min dat hulle saans honger moet gaan slaap, maar niemand in die plaaslike gemeenskap wil hulle help nie.

Uitkoms in haglike omstandighede

Sitara vertel met trane in haar oë: “Ons lewens is baie moeilik. Die huisie het herstelwerk nodig en die dak lek wanneer dit reën. Ek en Shekhar sukkel baie om dagwerk te kry, maar God gee ons krag en moed vir elke dag. Ondanks ons swaarkry, vertrou ons op die Here vir ʼn uitkoms.”

Ondanks haar moeilike omstandighede staan sy sterk in haar geloof. “Ek weet dat God my Vader is. Wanneer ons iets nodig het, bid ons en Hy antwoord ons altyd. Ons voel Sy teenwoordigheid selfs in die moeilikste omstandighede.”

Danksy die ondersteuning en gebede van Geopende Deure-ondersteuners in Suid-Afrika en ander wêrelddele, kon Sitara en haar sibbe met noodsaaklike noodleniging ondersteun word en weet hulle dat hulle deel van ʼn globale familie in Christus is. Geopende Deure se plaaslike vennote het Sitara twee jaar gelede deur haar pastoor leer ken en bring sedertdien dikwels vir hulle kos om die pandemie se uitwerking te probeer verlig.

“Die Here is getrou, want Hy het julle oor ons pad gebring. Julle bring dikwels vir ons kos wanneer ons niks het om te eet nie. Die mense in ons kerk help ons ook soms met groente wanneer hulle ʼn oorskot het,” sê sy.

Help die kerk in Indië

Jou ondersteuning vandag kan help om nog gelowiges soos Sitara aan die lewe te hou te midde van geweld, vervolging en die pandemie. Klik hier om te sien hoe jy die kerk in Indië kan help om te oorleef deur gebed, skenkings en om namens hulle te praat.

*Naam weens sekuriteitsredes verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.