Gedagte vir die dag: ’n Driepoot-geloof: Die hoop in jou

blomme-veld-vrou-son-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Hierdie toekomsverwagting sal ons nie teleurstel nie, want ons weet hoe lief God ons het. Hy het sy liefde mos in ons harte uitgestort deur sy Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. (Romeine 5:5)

Mense luister eerder na iets positiefs as na iets wat hul bang of moedeloos maak. Ons almal het tog behoefte aan goeie nuus. Daarom moet die kern van jou antwoord aan ’n belangstellende oor geloof iets te doen hê met hoop. Hoop is ’n positiewe toekomsverwagting. Dis die wete dat die toekoms hanteerbaar sal wees, selfs al gebeur daar angswekkende en moeilike dinge.

Die kern van Christelike hoop is die wete dat God ’n faktor is in die toekoms, en nie net ’n faktor nie, maar juis dié faktor. God hou die wêreld in sy hande, Hy het my lief, en daarom sal Hy my in die toekoms nie alleen laat nie. Dis ons hoop. Daar is dikwels ’n misverstand oor hoop, naamlik dat hoop baie naby aan ’n wens is – amper wensdenkery. Maar ’n wens is iets in my kop, terwyl hoop buite my geanker is. Dis hoop geanker in die feit en wete van God se krag en Christus se liefde. Met hierdie hoop praat ek anders oor toekomsverwagtinge as iemand sonder hierdie hoop. Daarom is ek gelowig optimisties en nooit ’n doemprofeet of klaagkous nie.

Romeine 5:5 praat van die soort hoop wat nooit beskaam nie.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here my hoop is in en op U gevestig. Nie die chaos om my nie..Amen

Luister graag ·

Dis vreemd dat die vyand soveel besigheideienaars aanval met soveel salarisse en bonuse wat uitbetaal moet word en hulle te oorlaai met soveel woede en angs, vir gaan daar genoeg wees en met die, word die res ook aangeval om hulle met wanhoop. En Jesus fluister met ‘n loflied, moenie vergeet van die verhaal agter my geboorteplan nie: Bonatuurlike redding vir almal wat dors is. Hou goeie moed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.