Gedagte vir die dag: ’n Driepoot-geloof: Integriteit

Paternoster_vissers_boot_see_strand_Sune.jpg

Vissersboot in Paternoster. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

Hou styf vas aan jou geloof, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete eenkant gestoot en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely. Himeneus en Aleksander is twee voorbeelde hiervan. (1 Timoteus 1:19-20)  

Die derde “poot” van ’n stabiele geloof is ’n skoon gewete en goeie lewenswandel. Dit wat jy in jou hart het, lei tot opregtheid. Dit wat jy met jou mond sê, sorg vir verkondiging. Maar hierdie derde aspek – jou skoon lewenswyse – lei tot integriteit. Integriteit is dat jy regtig is wat jy sê jy is. Dit gee geloofwaardigheid aan jou woorde.

Daar is ’n groot gevaar vir elke Christen en veral mense wat bekend is as kerkmense of bekendes wat openlik is oor hul geloof. Die gevaar is dat hulle ’n geheime sonde toelaat en verdra in hul lewe. Die skade wat so iets doen, is enorm. Dit belemmer jou eie geloof en, as dit ooit bekend sou word, verwoes dit jou getuienis. Dit maak ongelukkig ook nie net jou eie getuienis verdag nie, maar ook ander Christene s’n. Wanneer ’n predikant of bekende Christen se skandes uitkom, is alle ander Christene sommer ook onder verdenking: “Julle almal is skynheilig!” Jou gewete is God se waarskuwingsliggie. As dit aangaan, weet jy wat om te doen!

Paulus wys in 1 Timoteus 1:19 op die gevaar as hy sy gewete sou onderdruk. Dit geld vir ons ook.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.