Gedagte vir die dag: ’n Driepoot-geloof: Skoon lewenswandel

voetpad-brug-pixabay-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Dit is God se wil dat julle goeie gedrag die mense wat uit onkunde van julle kwaadpraat, sal stilmaak. (1 Petrus 2:15)

Daar is nog ’n rede vir die vereiste van ’n skoon gewete en goeie lewenswandel. Dit maak skinderstories stil. Selfs in die tyd van Petrus was swartsmeer ’n gewilde tegniek by die teenstanders van die geloof. Hulle het maklik slegte lasterstories oor Christene vertel en só die uitbreiding van die geloof probeer stop. Ons weet almal dat skinderstories baie seermaak, want dis so moeilik om te beveg. As jy byvoorbeeld ’n lelike storie oor jou self ontken, help dit niks. Mense aanvaar maar net dat jy nog verder jok om jou uit die skande uit te probeer kry.

In ons teksvers gee Petrus die enigste doeltreffende manier om skinderstories te stop. Dit is naamlik dat jou lewenswandel so goed en skoon sal wees dat almal wat die lelike storie oor jou hoor, sal weet om dit nie te glo nie. Hulle sal bloot dink: Ek ken hom of haar. So iets is net nie soos ek wéét hy of sy is nie. Maar die effek is nog groter: Jou goeie lewenswandel kan selfs die skinderbekke se hart verander. Hulle sal “skaam kry dat hulle kwaad van julle gepraat het” (1 Pet. 3:16, Bybel in Afrikaans 1983/1992). Die kwaadpraters word dalk jou vriende en medegelowiges!

Lees 1 Petrus 2:15, wat presies dieselfde sê.

Bron: Elke dag saam met God deur Henk Gous
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Here dankie dat ek in my swakheid my hand kan uitsteek na U die Ewige God en Verlosser